Sirkel: Paarl
Tak: Stellenbosch
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Nina Strydom
Datum: 13 Junie 2024
Frikkadeldorp en Soekmekaar
Dít is voorbeelde van plekname teëgekom in ‘n besoek aan die Voorgelegen museum in Stellenbosch. Die Voorgelegen museum in Dorpstraat is een van die minder bekendes in Stellenbosch, maar gewis die moeite werd om te besoek. Die museum bestaan uit drie uitstalruimtes. Die eerste uitstalling beeld die ontwikkeling van Stellenbosch en naburige dorpies uit. Die tweede uitstalruimte vertel die stories van mense wat gedwonge verskuiwings as gevolg van die groepsgebiedewet beleef het. Die derde uitstalruimte huisves tans ‘n keramiekuitstalling “(Un)earthed” van Suid-Afrikaanse kunstenaars. Op Donderdag, 13 Junie 2024 is die dames van die Stellenbosch-tak deur hierdie uitstallings geneem onder die bekwame leiding van Lameze Peterson.
Die dorpie-uitstalling verleen erkenning aan die rol wat elke plek en sy inwoners gespeel het in die tot standkoming van die groter Stellenbosch-distrik en al sy werksaamhede en prestasies. Dit sluit in Stellenbosch-Sentraal (1679), Pniël (1843), Raithby (1845), Klapmuts (1863), Kylemore (1898), Jamestown (1902), Idasvallei (1921), Khayamandi (1941) en Cloetesville (1964) – stigtingsdatum in hakies. Die uistalling vertel waar elke dorpie se naam vandaan gekom het. Wie weet nog dat Pniël “aangesig van God” beteken en dat Klapmuts vernoem is na die koppie daarneffens? Lekkersê en oorspronklike plekname binne hierdie dorpies dra by tot die interessantheid van hierdie uitstalling. Die rol wat afskaffing van slawerny en die vestiging van sendingstasies gespeel het, word mooi uiteengesit. Die rol wat kerk en skool, landbou en sport, musiek en speletjies in die verskillende gemeenskappe gespeel het, word mooi illustreer met foto’s en staaltjies.
Die tweede uitstalruimte verbeeld die seer en skade wat die groepsgebiedewet aan mense gedoen het. Videos word gespeel waar mense hulle stories vertel – maar hier kom ook die mooi van onthou en die wonderlike sin vir humor van die inwoners uit.
Lede van die Stellenbosch–tak by Voorgelegen museum
Leave A Comment