Tak: Klein-Brakrivier

Sirkel: Sirkel SWD

Datum: 7 Junie

Beriggewer: Lydie Terblanche

Skrywer & fotograaf: Retha Nagel

 

SANTA BONNE PROTEAS IS BESLIS ‘N BESOEK WERD

 

‘n Groot groep van die Klein-Brakrivier het op Vrydag 7 Junie, ‘n spog proteaplaas besoek.

 

Die gevestigde plaas beslaan 75ha waarvan 20 ha tans 34 spesies uit die 330 spesies in Suid-Afrika huisves. Wêreldwyd is daar nagenoeg 1400 verskillende spesies. Dit is ‘n besondere intensiewe boerdery want proteas moet met spesiale sorg behandel word. Die landerye is aangelê teen die suidelike hange en die proteas floreer in die mistige toestande. Insekdoders word minstens 2-weekliks gespuit om die proteas perfek te verbou vir die uitvoermark. Graad 1 en 2 proteas word ook landswyd versprei.

Gesnyde proteas se standaard stingellengte is 50-60cm en word in koelkamers @ 4°C geberg. Die verkoelingsiklus word nie verbreek nie en word die uitvoerproteas mooi verpak en per koeltrok na die Kaapstad lughawe geneem waar dit dan in koelhouers na Europa, die Ooste en Amerika geneem word. Die totale uitvoermark van Suid-Afrika is maar sowat 10% maar die Suid-Afrikaanse proteas is hoogs in aanvraag in die buiteland. Die Chelsea Blommeskou is ons land se toonbeeld van gehalte en kwaliteit blomme, veral ons pragtige proteas.

Dit is voorwaar ‘n lushof vir die oog om die rye en rye aanplantings te sien. Die uitstappie na Santa Bonne Proteas is beslis ‘n besoek werd.