Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Ada Gericke

Datum: 21 Mei 2024

VOËLVLEI LEER VAN BEWARINGSBOERDERY

Die dames van Voëlvlei se Vroue Landbouvereniging het met hul Mei-vergadering die voorreg gehad om by monde van Johann Muller, dinamiese jong boer van die distrik, presies te hoor hoe hierdie boerderymetodes bydra tot die bewaring van die natuur.

Na die Laingsburg-vloed, het ‘n boer besef dat daar baie grond wegspoel gedurende hoë reënval. Hy het besef dat die grond elke keer wanneer dit geploeg word, losser raak, makliker waai, makliker wegspoel en weer gouer droog word.

Hierdie probleem word aangespreek deur die metode van bewaringsboerdery, aangesien die lande nie meer geploeg word nie, maar nadat die oes af is, gespuit word sodat onkruid nie kan groei nie. Die strooi wat agterbly word ook op die lande gestrooi en vorm so ‘n mat bo-op die grond.

Die lande word net so gelos tot die volgende planttyd. Op dié manier word die oppervlak hard en droog sodat die water wat val totdat dit weer planttyd raak, langer in die grond behoue bly.

Johann vertel dat hulle ook selfs die diere op die plaas verminder het en nie in die lande laat loop nie, want dan word die grond te vas getrap. Hierdie metode vereis absolute presisie boerdery.

Ten spyte van alle voorsorg, glo hy dat 90% van die graanproduksie steeds afhang van die genade van Bo. Die ander 10% hang af van die bestuur van die boerdery. As hierdie 10% nie 100% reg gedoen word nie, sal die 90% nie help nie.

Op ‘n vraag oor die gebruik van die gif wat gespuit word, en die gevolge daarvan, reken Johann dat daar genoeg navorsing gedoen word oor die saak.

Die dames het ook in insetsels deur bestuurslede meer inligting gekry oor die komende verkiesing en die prosedures daar rondom. Almal is aangemoedig om te gaan stem. Op ‘n vraag waar die uitdrukking “Husse met lang ore” vandaan kom, het almal maar net weer gehoor dat dié ‘husse’ net mooi ‘niks’ is nie! Dis net ‘n onsinwoord en ‘n respons op ‘n lastige vraag. Die geskiedenis oor die ontstaan van die pannekoek soos ons dit vandag ken, is ook gedeel.

Hierdie vergadering was voorwaar ‘n leersame een.

Johann Muller en sy ma Johlene Muller (Voëlvlei saamroeper vir Landbou en Tuinbou)