Sirkel: Worcester
Tak: VLV Ceres
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Saamroeper: Linda Smit
Beriggewer: Louwna Hoving
Datum: 18 Mei 2024
DIE GROOT ROL VAN DIE JOODSE KULTUUR IN CERES WORD BELEEF, ASOOK DIE KULTUUR VAN MUSIEK EN TONEELSPEL
Jos Kahn
Jos Kahn deel die geskiedenis van die Jode in Ceres-area en die Joodse kultuur en geloof met die
vergadering. Sy ouers het uit Oos-Europa onder moeilike omstandighede na Suid-Afrika gekom.
Joodse seuns moes op 12-jarige ouderdom weermag toe gaan en het op 18 jaar gevlug na
Amerika of Suid-Afrika omdat hulle gedwing is om die Russiese Orthodokse geloof aan te neem.
Die ontdekking van goud in 1886 was ‘n groot trekpleister. Die immigrante het hulle dwarsdeur Suid-Afrika gevestig met min besittings en geld. Hulle het as smouse begin werk, later winkels gebou en kon ander familielede help om ook te emigreer. Hulle was hardwerkend en het uithouvermoë gehad. Hulle taal was Yiddish, Germanies en kon Afrikaans maklik verstaan (bv. handelen = handelaar, mekler = agent en baroof = beroep.
Die eerste Jood in Ceres, Adolf Arnholz, het ‘n winkel in 1865 en die Inland Transport Maatskappy
gehad. Later het Baumann gevolg en in 1900 was hier 10 families Die Joodse gemeente is in
1903 gestig en in 1920 was hier 30 gesinne. Die Sinagoge/Shul is in 1923 gebou en die
hoeksteen deur Mr Baumann gelê. Rabbi Nates het die gemeente, Ceres, Wolseley (destyds
Ceres-weg) en Tulbagh, bedien van 1927 tot 1953.
Bekende besighede, plase en hotelle (Grand en Majestic) is deur Jode bedryf: Polly Kirsch Theo,
Oustasie, een van die stigters van Ceres Fruit Growers (CFG), Raskin – Koeldrankfabriek, Sammy
Baum – winkelier, Dawie Cohen – boer Hottentotskloof, Odessa Stud, Lushof/Vensterbank (4de
generasie met grootste resieperderasstoet in Suid-Afrika, Fish – bekende handelaars in die ge-
meenskap, Sarembock het van Prussia gekom. Joseph was pionier van wetenskaplike kweek
van appels en het na die Boereoorlog saam met sy broers Louis en Jack bome van Nieu-Seeland,
Australië, Kanada en Kalifornië ingevoer.
Die Sinagoge/Shul is tydens die aardbewing in 1969 sodanig beskadig dat ‘n nuwe gebou in 1973
opgerig is. Die laaste diens in die gemeente is in 1999 gehou. Daarna is die gebou verkoop en
die geld is aan Steinthal-kinderhuis, Huis Mostertshoek, PJ Strauss Tehuis , Maudie Krielaftree-
oord en Hamlet Selfsorg geskenk, opgradering van die begraafplaas, die daarstelling van ‘n
permanente uitstalling by die Ceres Togryersmuseum en die res is in ‘n studiefonds belê.
Die Joodse geloof: In die 1950’s was die Joodse gemeenskap baie groot en die dorp was stil en
besighede gesluit wanneer dit Rosh Hashana of Yom Kippur (hul heilige dae) was. Vir middagete
op Rosh Hashana was daar ‘n brocha (seëning) by ‘n gemeentelid se huis en die hele Joodse
gemeenskap was daar. Meeste winkels was gesluit. Bar mitzvahs (inlywing van Joodse seuns
van 13 jaar om godsdienstige verpligtinge te aanvaar) was op ‘n Saterdagoggend gedoen om
06:00 en winkels kon dan na 08:00 oopmaak. Op Vrydagaande word bymekaar gekom vir ‘n
minyan waar ‘n kworum van ten minste 10 manlike lede ouer as 13 moet wees. Wanneer uit die
Torah (eerste vyf boeke van Moses) gelees word, word jou hoof bedek met Kippot (Keppeltjes),
ook in die Sinagoge.
Daar word nooit met die hand aan die perkament gevat nie. Dieselfde gedeelte word elke jaar op
dieselfde dag gelees. Vrydagaand is hul Sabbat. Geen werk of TV kyk nie en net die beste word
voorgesit.
Eetgewoontes: Hulle eet kosher – geen vark nie, net diere met gesplete hoef en wat herkou. Eet
ook nooit vleis en melk saam nie om gesondheidsredes. Vis moet skubbe aan hê.
Die Jode spits hulle toe op liefdadigheid sonder diskriminasie en veral aan die Joodse wesies in
die land.
Ann Solomons
Ann Solomons, begaafde musiekguru (onderwyseres) deel haar lewenspad met lede. Sy is
betrokke by die Anglikaanse Kerk en vertel hoe haar pa haar destyds in Grassy Park gelos het om
haar studies te voltooi en sy woorde aan haar was: “vind jou pad”. Sy was vir jare betrokke by
die radio en het met seniors gewerk en is nog steeds betrokke by musiek en toneeloptredes. Sy
werk graag met plaasskole, hulle is uitstekende toneelspelers. Sy glo dat mens op jou beste is in
die laaste kwartaal van jou lewe en dat jy moet beweeg en goeddoen tot jy sterf. Sy het haar ook
nou toegespits op die skryfkuns en het haar boek Golden Chords bekendgestel. Sy stap ook
eerder as om te ry, want dan kan jy bemoeienis maak met diegene wat jy teen die pad raakloop.
Die Here is op pad, wees versigtig en wees goed vir mekaar. Trust and believe for your whole
life. Geld is nie nodig nie. Wat wil jy sonder God doen? Go for it.
Leave A Comment