Sirkel: Paarl

Tak: Suider Paarl

Portefeulje: Kuns en Handvlyt

Saamroeper: Wilma Kock

Beriggewer: Gonny du Plessis

Datum: 15 Mei 2024

Suider Paarl-tak vier fees!

Die Suider Paarl-tak het Woensdag 15 Mei hul 69ste verjaardag gevier.

Die gaste en lede was bederf met ‘n pragtige versierde saal en mooi gedekte tafels vir die geleentheid. Na die verjaarsdagwense het die tak-lede vir hulself saam gesing in ‘n vrolike luim.

Dit was die Kuns en Handvlyt-vergadering en die tema was “Blommerangskikking met min blomme en ook kleur en droog van blomme”.

Die gasspreker was Mev Karika Conradie wat ‘n blomuitvoerplaas en die bloemiste/koffiewinkel “Kikka” in die Paarl besit.

Sy het verduidelik hoe maklik die bergvaring as basis vir rangskikkings gebruik kan word en dat dit ‘n varing is wat pragtig gedroog kan word vir droë rangskikkings. Ook hoe die protea “Repens” of Suikerkan maklik gekleur kan word. Sy steel word skuins afgesny en dan in gekleurde water gesit. Die kleurpoeiermengsel kan by bloemistewinkels gekoop word.

Sy het ‘n paar blommerangskikkings gemaak.

Ook word elke jaar in Mei, gedurende die verjaardag van die tak, die kentekens aan lede wat daarvoor kwalifiseer, uitgedeel. Twee lede het elk ‘n 15 jaar kenteken ontvang en drie nuwe lede die VLVK-kenteken.

Mev Marie Hammann het ‘n luimige item gelewer deur ‘n gedig van mnr Fanus Rautenbach, wat 20 jaar gelede spesiaal vir haar geskryf is, voor te lees. Daarna het sy ‘n gedig van Boerneef voorgelees en almal hartlik laat saamsing.

Die gaste en lede is bederf met ‘n heerlike koektafel.

 

Mooi gedekte tafels

Me Alida Walters, gasvrou, me Karika Conradie, gasspreker, me Rosa Lategan, gasvrou, en me Wilma Kock, saamroeper.

Dames wat kentekens ontvang het: me Wilma Kock (15 jaar) me Erna Scheepers (nuwe Lid) me Nonnie Malan (nuwe Lid) me Marianna Kershoff (nuwe lid) en me Berta Spangenberg (15 jaar). 

Sny van verjaardagkoek: me Gonny du Plessis,voorsitter, me Wilma Kock, vise voorsitter en saamroeper van Kuns en Handvlyt.