Sirkel: Paarl

Tak: Stellenbosch

Portefeulje: Kunste en Handvlyt

Beriggewer: Nina Strydom

Datum: 9 Mei 2024

 

Stellenbosch tuis tussen fynbos en hout

In die Stellenbosch-tak het ons merkwaardige veterane – mense wat van nature elke dag die VLV temas leef. Sonja van Zyl (née Perold) is een voorbeeld hiervan. Sy is reeds sedert 1975 lid van die VLV, was al voorsitter en is tans die vise-voorsitter van die tak. Haar oupa was die persoon wat die Pinotage-druif ontwikkel het. Stap jy in haar huis in, weet jy hoekom haar portefeulje ‘Tuisteskepping’ is: van die loodglaslampskerm met fynbosmotiewe wat syself ontwerp en gemaak het tot die splinternuwe kwiltskepping wat oor ‘n bed lê.

Haar eggenoot, Koos van Zyl, is by die tak “Mnr. VLV” gedoop – vanweë sy ondersteuning oral waar die tak hulp nodig het. As dit nie is om plek te reël vir die tak se vergadering nie, is dit om sy vrou te ondersteun met tee en verversings aandra vir al die dames.

In Mei-maand was Koos egter die middelpunt van belangstelling by die maandelikse byeenkoms van die tak. Die dames is by sy houtwerk heiligdom ingenooi. Met ‘n rowwe, droë stuk hout het hy gedemonstreer hoe geskaaf, gebeitel, gedraai, geseël, en gepolitoer word tot die uiteindelik produk. Die geur van varsgeskaafte kanferhout sal almal lank bybly. Koos kan tóór met hout: pennehouers en bakke en omtrent enigiets wat met hout op ‘n draaibank gemaak kan word.

Tans bedryf Koos en Sonja hulle eie eko-vriendelike gastehuis met die mooi naam “Kieriekwaak” op hul plaas in Jonkershoek. Hier word die natuur bewaar – selfs die skerpioen in die badkamer by die braaiplek word sagkens uitgehelp na ‘n veilige plekkie. Sonja plant inheemse bome en maak fynbostuin. Alle organiese afval – van houtskaafsels tot gaste se groenteskille – gaan komposhoop toe.

Koos by die draaibank

Koos met VLV dames by die draaibank; vlnr: Koos van Zyl, Regina Neethling, Lydia Schoeman, Erica van der Westhuizen, Sonja van Zyl, Mitzi Falck, Erna Basson

‘n Pennehouer in wording

Voorbeelde van penne: gemsbokhoring, rooi ivoor, meranti, sekelbos, olienhout,  swarthout en ebbehout

Die eindproduk

Verdwaalde skerpioen word sagkens teruggehelp buite toe