Sirkel: SWD
Tak: Sedgefield
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Saamroeper: Michelle van Antwerpen
Beriggewer: Carin van Niekerk
Datum van vergadering: 8 Mei 2024
Die dames van die VLV-tak Sedgefield leer hoe om Bonsai-boompies te begin kweek
Buks de Jager het tydens die Landbou en Tuinbou vergadering op 8 Mei 2024 ‘n inspirerende demonstrasie en praatjie oor die kweek en versorging van Bonsai-bome gelewer. Hy het ook ‘n paar interessante feite met die dames gedeel: Die duurste Bonsai-boom wat vir 1.3 miljoen dollar gewaardeer is, staan in ‘n Amerikaanse museum. Die oudste Bonsai-boom wat meer as ‘n duisend jaar oud is, staan in ‘n Italiaanse museum.
Daar is verskillende maniere om ‘n kwekery aan die gang te kry: Die boompie kan van ‘n saad, dik stomp, steggies of bome wat by ‘n kwekery gekoop is, gekweek word. Laasgenoemde wat in swart sakke is, kan kleiner gesnoei word. Maak altyd seker dat die boompies by ‘n geregistreerde kweker aangekoop word. Boompies kan ook by Bonsai klubs aangekoop word.
Wanneer ‘n boompie in ‘n pot geplant word, moet die basis baie stewig wees. Die plant moet ook stewig in die pot staan. Heg die plant met enige draad vas. Die pot waarin die boompie geplant word, moet ‘n gat vir dreinering hê. Sit plastiek gaas bo-oor die gat. Gooi fyn klippies onder in die pot, dan groter klippe en dan ‘n mengsel van verkieslik sampioenkompos en filtersand wat vir ‘n swembadpomp gebruik word. Verplant Bonsai-boompies in die lente of vroeë somer. Nadat dit oorgeplant is, plaas dit waar dit warm is, maar nie in die son nie. As ‘n boompie lank in ‘n pot staan, kry dit soms swaar. Haal dit dan uit die pot uit en krap die wortels met ‘n vurk skoon. Sny ook die dooie wortels af voor dit weer geplant word. Wanneer steggies geplant word, moet dit aan die begin van die somer gedoen word. Maak die stammetjie mooi skoon en smeer hormoonpoeier aan. Plant dit in klam riviersand wat in ’n groot plastiekbak met baie deineringsgate in is. Die steggie moet dadelik geplant word nadat dit afgebreek is.
Boompies moet gereeld bemesting kry. Gebruik ‘n mengsel van 232 kunsmis en beenmeel. ‘n Voorafgemengde mengsel is by Bonsai-kwekerye beskikbaar. ‘n Bounce back pilletjie kan ook toegedien word.
Die snoeiproses is baie belangrik. Die snoeiproses is rigtinggewend vir die groei van die boom. Die snoeiproses moet ‘n egalige groei vertoon. Knip ook die ekstra blare op die stam af. Buks het ‘n praktiese demonstrasie van die snoeiproses gedoen.
Buks moedig die dames aan om nie bang te wees om Bonsai’s te begin kweek nie. Daar is baie boeke oor Bonsai-bome sowel as inligitng op Google beskikbaar wat as hulpmiddels gebruik kan word.
Die saamroeper van Landbou en Tuinbou (Michelle van Antwerpen) het vroeër die jaar ‘n tuinkompetisie aangekondig en die lede aangemoedig om daaraan deel te neem. Die wenners is tydens die vergadering aangekondig: Eerste plek: Karen Nell; Tweede plek: Hantie van Deventer; Derde plek: Christie Broden. Baie dankie aan die beoordelaars: Michelle van Antwerpen, Naomi Snyman en Ivandi Schmidt.
Die tafels was ‘n lus vir oog met potplantjies as versiering. Die middelpunt van die tafel was die mobiele tuin van Gerda van der Westhuizen. Sy het dié tuin gemaak omdat sy nie op die oomblik ‘n tuin van haar eie kon inskryf vir die kompetisie nie.
Michelle van Antwerpen en Buks de Jager
Buks se mooi Bonsais
Buks se mooi Bonsais
Mobiele tuin van Gerda van der Westhuizen
Leave A Comment