SIRKEL: Noord-Karoo
TAK: Murraysburg
PORTEFEULJE: Opvoeding en kultuur
DATUM: 8 Mei 2024
BERIGGEWER: Theresa Troskie
Murraysburg ervaar Viëtnam
Opvoeding en Kultuur-program: Saamroeper: Hannelize van Heerden stel Maretta Theron aan die woord. Maretta, haar man en broer het onlangs deur Viëtnam en Kambodja gereis. Sy vertel interessanthede van die geskiedenis, kultuur en kos van die land. Sy kikker haar praatjie op met ’n blitsflitsaanbieding.
Hannelize van Heerden, saamroeper van Opvoeding en Kultuur, Maretta Theron en Rialene van der Merwe
- Omdat Viëtnam se kultuur en kos so baie van ons Westerse lande s’n verskil, is dit ’n land wat ’n mens fassineer!Dit is ’n klein, sosialistiese landjie met ’n baie groot bevolking.
- Die land is bekend vir hul feeste.Nuwejaarsfees word voluit gevier. Hul nuwe jaar val egter nie soos ons s’n op 1 Januarie nie. Tydens hierdie fees, staan die kinders vroeg op, trek aan en gaan wens hul ouers en grootouers ’n voorspoedige nuwe jaar toe. Hul ontvang dan van die ouers en grootouers koevertjies met “lucky money” vir voorspoed in die nuwe jaar.
- Huise bestaan uit drie verdiepings:onder bly die grootouers, in die middel die ouers en bo die kinders. Dit dwing die kinders en ouers om deur die grootouers se huise te moet loop en hulle gereeld soggens en saans te groet. Dit kweek respek vir ouers, grootouers en meerderes.
- ’n Ander gewilde fees is hul Waterfees wanneer almal die strate invaar met watergewere en pistole.Enigeen wat voorkom, word bygedam en sommer gou is almal sopnat!
- Die gewildste vervoermiddel is motorfietse, letterlik almal ry daarmee rond.As ’n mens iemand op ’n motorfiets of in die strate sien wat van kop tot tone met klere bedek is, kan jy weet dis iemand uit ’n hoë stand. Hulle glo dat die son nie op hul lywe mag skyn nie. Boere en mense wat in die buitelug werk en wat deur die son gebrand word, word nie geag nie. Hulle word gereken as van ’n lae klas!
- Opvoeding is baie belangrik en kinders word van kleins af geleer om andere te respekteer.Kinders wil ook graag leer en het ’n smagting na kennis. So sal hulle baie ordentlik met buitelanders probeer kommunikeer in bv. Engels en oor interessante onderwerpe soos ander lande se kultuur vrae vra.
- Strate is volgepak met stalletjies met alles waaraan jy kan dink, vrugte, kos, klere, alle soorte seekos en selfs slange en skerpioene wat in skoon alkohol in deurskynende flesse ingelê is.’n Glasie van hierdie alkohol glo hulle, het dieselfde uitwerking wat renosterhoring (soos hulle glo) op mans het!
- Bootvaarte tussen die eilande is gewild onder toeriste en gidse is uiters vriendelik en behulpsaam en bedank besoekers wat hul land besoek en so kos op hul tafels sit.
- Treine, busse en vliegtuie is altyd stiptelik op tyd!
- Om vandag in Viëtnam te gaan toer is baie goeie waarde vir geld.
Alna Theron het deeglik navorsing gedoen oor Viëtnamese kos en doen ’n uitstekende demonstrasie van ’n baie gewilde Viëtnamese gereg, Pho.
- ’n Ekstrak word gekook van water, heel suurlemoene (skil en al), knoffel, lourierblare en ’n ekstrakblokkie.
- Wanneer dit goed kook, word dit van die hitte verwyder en rou hoenderborsies word daarin geplaas en vir ten minste 50 minute daarin gelos.
- Intussen word rysnoedels gaargemaak.
- Nou word die bord gepak:onder die pasta, dungesnyde hoenderborsie word netjies daarop geplaas, komkommerlinte, sprietuie, rooi uie, vars koljanderblare, vars mentblaartjies en heel bo spruite.
- Bo-oor alles word die ekstrak (dun sop) gegooi.
Almal kon proe aan die interessante en geurige gereg!
Leave A Comment