Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 23 April 2024
‘N LEEFSTYL TEEPARTYTJIE – VOËLVLEI WORD 90 JAAR OUD
Op 23 April het 30 entoesiastiese lede en VYF ewe entoesiastiese oud-lede van VLV Voëlvlei in die Vleesbaai-saal bymekaargekom om die groot mylpaal met ‘n oggendtee te vier. Carol Scott, ons takvoog van SWD Sirkelbestuur was ook teenwoordig.
Vyf besondere verjaardagkoeke het gesorg vir verdere opheldering van die dag. Die dames het baie moeite gedoen met hul koek-kunswerke. Linzetta Smit se verjaardagkoek het met die louere weggestap. Hierdie kunswerke is met groot smaak geniet tydens die kuier om die teetafels.
Getooi vir die geleentheid, elk met ‘n pragtige hoed op, het die dames aangesit by pragtig versierde tafels. Laetitia Lombaard se wenhoed was versier met 2 meter materiaal en die rose van haar skoonsus se dogter se troue, en het baie bewondering uitgelok.
Die dames is deur Anna-Marie van die Merwe op ‘n besondere wyse ingelig oor die ontstaan en geskiedenis van Voëlvlei se VLV-tak. Die tak is amptelik in 1934 gestig hoewel daar reeds vanaf 1930 informele en ongereelde vrouebyeenkomste gehou is. Daar was ‘n behoefte by die boere se vrouens om hul deel by te dra ten opsigte van volwasse opvoeding.
Mev. Johanna Pienaar het die bal aan die rol gesit. Twintig dames van Voëlvlei en omliggende plase het bymekaargekom op die plaas van Mev. Pollie Pienaar. Mevv. JJ Scholtz en Dora Robertson, voorsitter van SWD, het die tak amptelik gestig. Mev Johanna Pienaar is verkies as die eerste voorsitter en Mev Lena Honiball as sekretaresse.
Vergaderings is aanvanklik by lede se huise gehou (saam met die Voëlvlei Boerevereniging se boere), maar namate die ledetal gestyg het, moes die byeenkomste skuif na ‘n klaskamer in Buffelsfontein Laerskool, vandaar na die Gholfklub te Boggomsbaai en tans word die vergaderings om die beurt in Vleesbaai en Gouritsmond gehou.
Oor die jare is interessante en leersame demonstrasies en praatjies aangebied, afgevaardigdes is na konferensies en kongresse gestuur waarna volledig verslag gedoen is. Pryswenners vanaf daardie tyd, wie se name gereeld voorgekom het, was Mev Margaret van Rensburg, Mej Connie Terblanche, Elize Pienaar, Johlene Muller en Linzetta Smit.
Tans bly die ledetal dieselfde tussen 40 en 45 met dames van Gouritsmond, Vleesbaai, Albertinia, Mosselbaai en Hartenbos.
Hulde is gebring aan al die getroue lede wat oor die 90 vrugbare jare bygedra het om VLV Voëlvlei se naam hoog te hou met elkeen se talentvolle insette op vele terreine.
Elize Locke, Linzetta Smit en Carol Scott met die wenkoek
Die wenkoek van Linzetta Smit
Louisa Smit, Laetitia Lombaard en Corien Taljaard met hul spog hoede
Leave A Comment