Sirkel: Weskus

Tak: St Helenabaai

60ste Verjaarsdagviering

Beriggewer: Wilna Marx

Fotograaf: Elmarie Visser en Mariette Ackerman

Datum: 20 April 2024

 

St Helenabaai vier 60 Wonderjare!

60 Jaar

Beplanning het reeds maande terug begin. Na vele vergaderings, beplanningsessies en dinkskrums breek die “Versier die saal”-dag aan. Die bestuur en van die lede werk hard om ons kosbare baai in die saal uit te beeld vir die gaste wat saam verjaarsdag gaan kom vier.

Lede maak die saal gereed

 

Die dag van 20 April, ons tak se sestigste verjaarsdag breek prentjiemooi oop. Amper so mooi soos ons saal.

Die saal

 

Met die gaste se aankoms ontvang elkeen ‘n glasie sjerrie. Op elke stoel wag ‘n pragtige geskenkie vir elke gas.

Gaste geskenkie

Nadat Maggie Enever, Voorsitter van ons tak al ons gaste verwelkom het, spreek Mev. Estelle du Plessis President VLVK ons toe.

Wat ‘n voorreg om na ons gasspreker van die dag, Martelize Brink te luister. Sy is voorwaar ‘n inspirasie vir elkeen van ons.

Voor: Martelize Brink, Agter: Elsabe Carstens (President Sirkel Weskus), Estelle du Plessis (President VLVK)

Na ‘n pragtige musiekitem en die voorlesing van ons tak se geskiedenis het Elsabe Carstens president Sirkel Weskus, die heildronk op die verlede en toekoms van ons tak St Helenabaai ingestel.

Maggie Enever, Hannie Pienaar, Elsabe Carstens (President Sirkel Weskus), Estelle du Plessis (President VLVK) en Dinette Lochner (Sirkel Weskus en VLVK Tesourier)

 

“Ken jy die see”, die Vissersmangedig deur Uys Krige bring die harde werklikheid van die vissermanslewe hier aan die Weskus in ons verjaardsdagsaal binne. Ons kan met diepe besef vol dankbaarheid dink aan elke visserman wat hier om ons woel en werk.

Na die bedankings gedoen deur Maggie Enever en die tafelgebed deur Tannie Babsie Keller, is dit tyd vir smul aan die heerlike vingerete.

Die tafels lyk ongelooflik mooi getooi in glas, skulp en see.

Tafelversierings

 

Geregte vir elke fynproewer se smaak word opgedis aan ons gaste.

Vingereetgoed

 

Die verjaarsdagkoek. ‘n heerlike kaaskoek, word deur Tannie Hannie Pienaar gesny. Gaste smul ook aan sjokolade mousse en appelrosies. Koffie, tee en sap was ook gereed om elkeen se dors te les.

Verjaarsdagkoek en poeding

 

Hierdie heuglike gebeurtenis, deur elkeen geniet is die hoogtepunt van ons jaar hier in St Helenabaai. Die ryke seën uit Ons Vader se hand vir die afgelope 60 Jaar bring vir ons vrede en hoop vir die toekoms.

Gaste