Sirkel: SWD
Tak: Sedgefield
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Saamroeper: Miemie De Lange
Beriggewer: Carin Van Niekerk
Datum van vergadering: 17 April 2024
Sakevrou van George inspireer die dames van VLV Sedgefield–tak
‘n Vrou wil mos mooi wees, glo die dames van VLV Sedgefield
Tydens die Kunste en Handvlyt-vergadering van 17 April 2024 het Marguerite van der Merwe van Piekant Picnic in George het die dames op haar reis van die afgelope agt jaar geneem.
Dit het begin by die maak van ‘n piekniekkombers wat uitgebrei het tot ‘n ‘n welvarende onderneming. Marguerite het een nag van ‘n funksionele piekniekkombers gedroom. Sy het sonder enige kennis van naaldwerk en met ‘n geleende masjien van haar skoonma, haar eerste kombers volgens haar droom gemaak. Hierdie kombers is binne twee weke en met baie uittrek en weer probeer voltooi. Haar skoonpa het haar aangemoedig om dit op Facebook te adverteer en so het sy ‘n klompie komberse begin verkoop. Sy het die geleentheid gekry om haar komberse op ‘n baie groot skou te gaan uitstal. Sy het by daardie skou nie ‘n enkele kombers verkoop of ‘n bestelling gekry nie. Sy het egter nie moed opgegee nie, en by die tweede skou het sy meer as 100 bestellings gekry. Sy het van krag tot krag gegaan en by die derde skou het ‘n korporatiewe instelling 360 kombersies bestel. Marguerite het later selfs die geleentheid gekry om in Parys, Frankryk, te gaan uitstal.
Marguerite het toe twee dames gekry wat haar met die stikwerk gehelp het en haar ma het gehelp met die uitsny van die komberse. Dit het hulle alles in hulle motorhuis bedryf. Haar onderneming het geweldig uitgebrei met al hoe meer bestellings van korporatiewe organisasies. Sy het ook ander produkte o.a. koelersakke en kamptafeldoeke begin maak. Nadat sy ‘n regeringstoelaag ontvang het, kon sy ‘n materiaaldrukker koop om unieke materiaalontwerpe op haar produkte te gebruik.
Vandag het sy ‘n klein fabriekie agter in haar winkel op George en ses werknemers in diens. Sy en haar man bedryf nou saam die besigheid Sy is in 2022 as die Kleinsakevrou van die Wes-Kaap aangewys. In 2023 het sy aan ‘n kompetise van die Besigheidskamer van George deelgeneem waar sy na tien weke ‘n besigheidsplan moes voorlê en is uit 25 besighede as die wenner aangewys.
Wat Marguerite se reis so merkwaardig maak, is dat sy haar besigheid op die been gebring het en tot suksesvolle onderneming uitgebrei het te midde van ernstige gesondheidsprobleme. Sy beleef daagliks erge pyn a.g.v. Lupus Artritis wat by haar gediagnoseer is. Sy glo dat die Here met haar ‘n pad loop en dat Hy haar op hierdie reis lei. Sy erken dat dit nie ‘n maklike pad is nie, maar dat sy daagliks gefokus moet bly met haar oog op God gerig. Sy weet dat God nog groot planne vir Piekant Picnic het en dat Hy haar volkome sal herstel.
Anna Herbst en Marguerite van der Merwe
Sedgefield dames met hulle kleurvolle uitrustings aan
Petro Boshoff
Barbara De Jager
Leave A Comment