Sirkel: SWD
Tak: Klein-Brakrivier
Datum:16 April 2024
Beriggewer: Lydie Terblanche
Skrywers: Retha Nagel & Leola Esterhuizen
Sameroeper: Kuns & Handvlyt
Fotograwe: Retha Nagel, Ria van Straaten, Leola Esterhuizen en Suzette O’Kelly
Mosaïektonnel het Klein-Brakrivier in vervoering
DIE GROOTSTE MOSAÏEKWERK IN AFRIKA (deur Retha se lens)
Kleinbrak-taklede het op Dinsdag, 16 April 2024, ‘n uitstappie na die ikoniese mosaïektonnel geleë by die Pinnacle Point Gholflandgoed in Mosselbaai onderneem. Die tonnel vorm deel van die pragtige en asemrowende St. Blaize voetslaanpad van 13,5 km tussen die Punt en Danabaai.
Die idee om die tonnel te mosaïek as ‘n toerisme aantreklikheid, het ontslaan in Julie 2022. Die kreatiewe en inspirerende denke van Annemie en Amos v/d Merwe en Chrissie Olivier het die goedkeuring van die Mosselbaai Munisipaliteit ontvang om voort te gaan met dié grootte projek. Saam met 14 vrywilligers is die projek aangepak wat reeds meer as
10 000 ure se werk behels. En wat ‘n uitsonderlike stuk kunswerk verwelkom ‘n mens nie!
Die geraamde onkostes beloop sowat R600 000 waarvan verskeie instansies en lede van die privaatsektor van die 92 panele al geborg het. Die tonnel is 55 m lank en die kunstige ontwerpe spreek boekdele. Suid-Afrika se geskiedenis sedert 1994, insluitend ons nasionale embleme word aan die begin van die tonnel uitgebeeld. Dit word opgevolg met die ryke geskiedenis van ons pragtige Mosselbaai met besienswaardighede en meer aan die een kant. Aan die ander kant word ons seelewe kleurvol uitgebeeld.
Verdere uitbreidings behels die dak van die tonnel waar ons planete en uitspansel gaan pryk, waarna die kunstenaars ook beoog om die loopvlak te mosaïek. Hierdie projek sal uiteindelik gesien kan word as die grootste mosaïekwerk in Afrika en gaan beslis nog baie besoekers van heinde en verre lok.
DIE WONDERWÊRELD VAN KUNS (deur Leola so lens)
Vrolik daag die VLV dames van Klein Brakrivier by die bymekaarkom punt na tonnel op. Almal lag en gesels opgewonde paar foto’s word geneem. Ons weet nie wat vir ons wag nie ander wat reeds gesien het praat en vertel hoe mooi die mosaïek werk is, maar dit is maar net praat gaan by een oor in en ander oor uit. Die eerste tree wat ek gee in die tonnel sien ek ons geliefde voormalige president Madiba, op vallend onmiskenbaar so volg die een mosaïek seil na die ander. Almal babbel en bewonder ons is nou in ń ander wêreld kan ons oë nie glo nie alles tot die fynste detail. Skepe wat gesink het se skatkis met al detail goud, juwele en antieke Delft, vissies, verskeidenheid seelewe omring my ek is nou onderwater voel of ek onder die water tussen al die skatte en seelewe rond snorkel ek beleef ek ontdek. So stap ons aan babbel wys uit en in ń wonderwêreld.
Die hele omgewing word in detail gedek tot by Oudtshoorn en sy volstruise en pragtige eiers dit lyk werklik. Die aalwyne, plante dierelewe leef. By einde neem ons weer buite groepfoto’s en van omgewing net soos God dit geskape het. Al die vrouens lag en gesels nog vrolik. Nou dieselfde pad terug weer deur tonnel – ons wil weer sien! Neem nou paar foto’s van kunstenaars wat nog hard aan die werk is met hul meesterstuk. Hulle verstom en geniet hulle aan ons opgewondenheid bewondering oor hul kunswerke. Almal gaan skryf in besoekers boek – mooi, pragtig, asemrowend, onbeskryflik die hele woordeboek word gedek. Gaan verloor jouself in die wonderwêreld van kuns.
Voorwaar n besoek werd…. Uitsonderlike stuk kunswerk