Sirkel: Tygerberg
Tak: Helderberg
Portefeulje: Landbou en Tuinbou (Sirkelstap)
Beriggewer: Elsa Hanekom
Datum: 16 April 2024
Helderberg stap en maak strand skoon
Die Helderberg is die laaste paar weke erg geteister deur stormsterk winde en die wind het ons behoorlik in ons huise vasgekeer. Ja, en voor einde April moet ons ons Sirkelstap ter ondersteuning van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue se Women Walk the World inwerk! ‘n Stap langs die see word beplan en meeste lede laat weet hulle sal kom indien die wind nie waai nie. Ja, wat is die kans!
En so word ons vanoggend, die dag van die stap, wakker met die mooiste weer wat ons in maande beleef het. By die see aangekom lyk dit om 09:00 op ‘n Dinsdagoggend soos ‘n vakansiedag.
Die lede kom by die “Hottentots-Holland Beach Sailing Club” byeen waar Lisa Starr van “Helderberg Ocean Awareness Movement” (HOAM) vir ons ‘n insiggewende praatjie lewer. Lisa het in Brittanje grootgeword. Haar ouers was baie passievol oor die omgewing en die natuur. Lisa vertel dat sy as ‘n klein dogtertjie slegs toegelaat was TV-programme met David Attenborough te kyk en so is haar liefde vir die natuur ook gekweek. Sy het egter 22 jaar gelede verlief geraak op Suid-Afrika en haar hier gevestig.
Lisa is ook onlangs deur “The People of South Africa Foundation NPC” as hulle Direkteur van Omgewingsake aangestel.
HOAM is ongeveer vyf en ‘n halfjaar gelede gestig en fokus veral op die mariene beskermde gebied in die Strand.
Sy wys vir ons die area’s in die Strand uit waar visgevang mag word en ook waar daar met honde gestap mag word. Hulle poog baie hard om veral honde uit die mariene beskermde gebied te hou. Tans broei daar voëls in hierdie area. Lisa noem dat hulle ook hierdie jaar twee slange op die strand aangetref het. Groot was ons opgewondenheid ook vanoggend toe ons by die klubhuis kom en voor hulle voordeur bokkiespore en nog spore wat ons nie kon identifiseer nie, in die sand sien. Volgens Lisa alles tekens dat die natuurlewe besig is om terug te keer.
Sy vertel ons ook meer oor Freddie. Freddie is ‘n rob wat vir ses weke op die strandgebied gekuier het. Ongelukkig wou almal selfies saam met Freddie neem en soos Lisa sê, robbe hou nie van selfies saam met mense nie. In die proses het Freddie na ‘n toeris gehap. Die dierebeskermingsvereniging het hom kom haal om hom te hervestig. Ongelukkig is Freddie in die proses in ‘n hok, agter op ‘n bakkie dood. Soos Lisa dit stel: Removing nature for human convenience.
Robbe is 70% landdier. Hulle moenie natgegooi word wanneer hulle buite die water is nie. Hulle kom juis uit die water om warm te word.
Vyf spesies seeskilpaaie kom in ons omgewing voor. Hulle is almal op die byna bedreigde spesies lys. Die grootste oorsaak hiervan is mikro plastiek wat in die oseane en ook op die strandgebiede voorkom en wat deur die voëls en seediere ingekry word.
Na Lisa se praatjie het almal gaan stap en mikro plastiek opgetel. Eers wanneer jy werklik daarop fokus besef jy hoe ongelooflik baie stokkielekker-stokkies, sigaretfilters, verweerde botteldoppies en ander fyn stukkies plastiek op die strand lê. Ons het tot kunsnaels opgetel. In die proses is nie baie ver gestap nie, maar wel baie gebuk.
Dankie aan almal wat dit ‘n besonderse oggend gemaak het. Dorette wat die klubhuis vir ons oopgesluit het en Helene en Ben Gericke vir die neem van foto’s en video’s.
Don’t pass it by – pick it up!
Spore in die sand
Nog spore in die sand
Foto 3:
Anné Andersen, Reneé Annandale, Charlotte Kriek en Marian Walls
Lisa Starr van HOAM
Feite oor robbe
‘n Skokkende feit oor haaie
Ben, Dorette en Lisa kry die lede in die regte gees vir die groot skoonmaak
Lisa en VLV Helderberg lede na die skoonmaak
Nie juis ver gestap nie
Leave A Comment