SIRKEL: WORCESTER
TAK: MARIA STOFBERG
PORTEFEULJE: GESONDHEID
SAMEROEPER: ELIZE WESTENBERG
BERIGGEWER: ALTA BRITZ
DATUM: 4 APRIL 2024
WIE BESOEK ‘N PYNKLINIEK?
Dr. Elze-Mari Greyling, pynpraktiseur by PAIN Breedevallei het gepraat oor chroniese pyn en Cornè Conradie, Arbeidsterapeut by BACK2WORK en PAIN Breedevallei oor “Mindfullness”.
Dr Greyling is ‘n Algemene Praktisyn. Sy het beklemtoon dat aanhoudende pyn as ‘n chroniese siekte beskou word wat alle mense se lewenskwaliteit kan beïnvloed. Sy het 8 konsepte oor pyn uitgelig:
- pyn is werklik, ongeag wat die rede daarvoor is;
- pyn is die liggaam se alarmstelsel;
- pyn en weefselskade is nie noodwendig gelyk aan mekaar nie;
- in geval van pyn maak alles in jou omstandighede saak;
- die pyn raak beskermd indien dit aanhoudend is;
- die pynsisteem kan geleer word om minder beskermd te wees;
- kennis is mag, en dra baie by tot effektiewe behandeling;
- aktiewe behandeling is altyd beter as passiewe behandeling.
Die doel met die PAIN kliniek is om persone met pyn te help om dit te beheer, in plaas daarvan om dadelik na chirurgie oor te gaan. Die dokter doen ‘n prosedure waarmee sy die senuwee, wat na die pyn lei, herstel of dan ‘reset’. Hulle doel is om ‘n persoon met chroniese pyn te leer hoe om die pyn te hanteer, om daardeur te werk, en so ‘n pasiënt kry terapie om daarmee te help. Soos een van die konsepte sê, alles in die omgewing en lewe van ‘n pasiënt met pyn speel ‘n rol. Hier praat ons onder andere van genetika, die pasiënt se lewensomstandighede, sy dieet, ens. Die prosedure waar die senuwee herstel word, hou langer as die pasiënt sy dieet aanpas en soveel oefening as moontlik doen.
Na Dr Greyling was Corné Conradie, Arbeidsterapeut, aan die beurt. Haar rol is om vir pasiënte te leer om die pyn te hanteer deur meer bewus te word van hulle onmiddellike omgewing en faktore.
“Mindfullness”, of ‘n bewustheid, kan geoefen word om onder andere chroniese pyn te beheer, maar die voordele daarvan is legio. Om daarmee te begin moet ons bewus word van ons asemhaling, en daar lê sy veral klem op diafragmatiese asemhaling, waar die spier onder jou longe jou help asemhaal, eerder as van die bors af soos wat meeste mense doen. ‘Mindfullness’ help ons om beter fokus te hê, en pyn agtertoe te skuif.
Sy het met almal ‘n oefening gedoen om ons te help ontspan, konsentreer op ons asemhaling, om deur die beeld van ‘n stroompie met blare wat wegbeweeg, vir ons te leer om die probleme en spanning wat alles bydraende faktore tot pyn is, te laat ‘wegspoel’.
Ek dink almal teenwoordig het geleer dat dit nie nodig is om dadelik na ‘n chirurg te gaan en ‘n vervanging, of ‘n klomp pynmedikasie, wat net vir ‘n klein tydjie help, te kry nie.
Baie dankie weereens aan Lindie du Toit, Senior Skakelbeampte van die PAIN kliniek, wat hierdie besoek vir ons gereël het.
Die dames het ook fluks aan die kompitisies deelgeneem. Daar was 8 inskrywings by die gebreide hangers met Alta Britz 1ste plek, Louisa Gie 2de plek en Elize Westenberg 3de plek.
Lede het die mooiste geskenksakkies gemaak. Daar was 9 inskrywings. Ansie Landman 1ste plek, Anna Labaschagne 2de plek en Ansie Stenekamp 3de plek
Sprekers: vlnr – Cornè Conradie, Lindie du Toit en dr. Elze-Mari Greyling
Elize Westenberg – sameroeper van Gesondheid
Plakkaat “Pain”
Naaldwerkkompetisie: twee gebreide hangers.
Kunskompetisie- Geskenksakkie.
Leave A Comment