Sirkel: Sirkel SWD

Tak: Klein-Brakrivier

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Datum: 26 Maart 2024

Beriggewer: Lydie Terblanche

Skrywers: Retha Nagel & Dawn Greyling

Fotograwe: Retha Nagel, Ria van Straaten, Dawn Greyling, Leola Esterhuizen, Suzette O’Kelly, Jenny Spangenberg, Meisie Pretorius

 

So proe-proe deur Bali

 

Tydens ons maandelikse byeenkoms van 26 Maart, kry die Kleinbrakkies die geleentheid om met ‘n voëlvlug, hierdie besonderse eiland te gaan besoek. Ons gasspreker was uit eie geledere in die persoon van Lydie Terblanche, wat verlede jaar ‘n welwillendheidsbesoek saam met haar moeder aan Bali gedoen het.

Mosselbaai het ‘n tweeling-ooreenkoms met die hoofstad en spilpunt van Bali, Denpasar. Hierdie vennootskap beteken dat daar kulturele uitruiling plaasvind m.b.t toerisme, handel, landelike- en organiese verbouing kennis, en beleggings tussen die twee stede, tot voordeel van beide.

Die Balinese is buitengewoon bekwaam in kuns en handvlyt en die houtsnee-/beeldhouwerk beelde word orals aangetref. Voorts is hul baie lief vir musiek, poësie en dans. Feeste vind gereelde plaas en besoekers kan dan deel wees deur hul kosse te probeer, en saam tradisionele danse, parades en vertonings te geniet. Musiek, poësie en dans vorm dan ook ‘n integrale deel van die Balinese lewe en word veral gebruik in verhoogstukke wat magies-godsdienstige stories deur pantomime vertel word. Hul artistieke temperament word weerspieël in hul handewerk (skilderkuns, houtsnee werke en silwerbedrywe). As ‘n besoeker, word jy uitgenooi om hierdie handewerk te leer en self iets te maak.

Daar is vyf pertinente beginsels vasgelê by die Balinese deur die eerste president, Sukarno (1945-1967) naamlik:

  • Die geloof in een God (Lewe in harmonie met God)
  • ‘n Regverdige en beskaafde mensdom (Lewe in harmonie met ander mense en die aarde/natuur)
  • Indonisiese eenheid
  • Demokrasie onder die wyse leiding van verteenwoordigende konsultasie
  • Sosiale geregtigheid vir alle mense in Indonesië

Indonesië is hoofsaaklik Moslem, maar die Balinese is 80-90% Hindoes. Die ander godsdienste, Moslems, Boeddhisme, Katolieke en Protestante is baie klein groepies. Alle Balinese dorpe het tempels en ‘n vergadersaal, gewoonlik op ‘n plein wat dien as markte en waar feeste ook gehou kan word.

Hindoe standbeelde kom orals voor en elkeen een van hulle verskillende “gode”, verteenwoordig ‘n spesifieke element. Aanbiedings (“offerings”) aan hierdie verskillende “gode” word dan aangewend om deur hulle dankseggings op iets spesifiek te fokus. So ‘n aanbieding, is ‘n teken van dankbetuiging (meestal blomme, wierook en rys) word by, op of naby die relevante verteenwoordigende standbeeld geplaas. Plekke vir danksegging is talryk en wydverspreid. Daar is ‘n vaste geloof in reïnkarnasie, wat beskou word as ‘n siklus van wedergeboorte, wat aan Karma gekoppel is. (Karma = ‘wat jy saai sal jy maai’). Hindoes leef voluit binne hierdie riglyne en glo verder dat die gevolge van karma, deur God beheer word. “How people treat you, is their Karma; how you react is yours.” (Wayne Dyer)

Wat voedsel betref, kom tradisionele kosse soos bredies, bobotie, sosaties en koeksisters in ons land, van Indonesië. Rys is Bali se stapelvoedsel en word by alle etes aangebied en geniet, insluitend ontbyt en nagereg. In die Balinese platteland word jy altyd met ‘n vriendelike glimlag, ‘n verfrissende vrugtedrankie en vars vrugte bederf.

 

Onder leiding van Leola Esterhuizen, Saamroeper Opvoeding & Kultuur en haar span gasvroue, is daar tydens hierdie geleentheid dan ook uitgehang met ‘n granaatsap en ‘n verskeidenheid vars vrugte, reeds uitgepak op bordjies. Die praatjie word afgesluit met die proe van ‘n verskeidenheid Balinese koffie-geure, ʼn maaltyd van rys en Indonisiese hoenderkerrie en ʼn tipiese “Black rice” poeding. Ons kon voorwaar al die kleure, geure en smake op hierdie vinnige toer na die idilliese eiland Bali ervaar.

 

Klein Brakrivier tak gaan 16 April op ʼn uitstappie na die Mosaïek tonnel projek in Pinnacle Point, Mosselbaai; en daar word beplan om Meimaand bome te plant by die Wolwedans Jeugsentrum.