Sirkel: SWD

Tak: Hartenbos

Portefeulje: Potpourri

Saamroeper: Hele bestuur

Beriggewer: Wilma van Staden

Datum: 26 Maart 2024

 

Hartenbos Herfsfees wat pyne help verlig

 

Hartenbos VLV-tak het op 26 Maart 2024 ‘n Herfsfees gehou. By die geleentheid is ‘n vrolike Herfstee aangebied met ‘n gasspreker en pragtige musiek, pragtige, vrolik gedekte tafels, geskenktrekkings en heerlike eetgoedjies.

Hartenbos VLV-tak was verheug en opgewonde om by die geleentheid ook vir Rita Burger, ons vorige Voorsitter, in ons midde te verwelkom. Sy het verlede jaar erge terugslae met haar gesondheid gehad. Ons is saam met haar vol dankbaarheid vir die goeie vordering en herstel. Soos julle op die foto kan sien, lyk sy so pragtig. Prys die Heer.

Rita Burger

Die gasspreker by die geleentheid was Dr Adriaan Liebenberg, ‘n neurochirurg wat met die gaste gepraat het oor die beheer van pyn. Dr Adriaan het verskeie Pyn Klinieke regoor SA, waarvan die naaste in George is.

Dr Adriaan Liebenberg

Kontakbesonderhede en Kliniekpunte

Dr Adriaan het hoofsaaklik gepraat oor chroniese pyn, waarvan Osteo-artritis die algemeenste is. Vir die hantering van chroniese pyn het hy die volgende aspekte uitgelig:

  • Onderrig in en begrip vir die wetenskap van pyn, maw die oorsprong van pyn, is noodsaaklik.“Pyn word in die kop ervaar”, die boodskap van pyn kom van ‘n ander plek van die liggaam. Dit verander die persepsie van pyn en die behandeling daarvan.
  • Die handhawing van ‘n gesonde lewenstyl is ‘n kern aspek van die behandeling van chroniese pyn.Twee aspekte wat beoefen kan word en waarvoor die kliënt self eienaarskap kan neem, is die volgende:
    • “Beweging is medisyne” waarvan stap en dans die belangrikste is.Stap is gratis, geen spesiale afrigting is nodig nie en dit bied verskeie ander gesondheidsvoordele. Vir maksimum voordele is een uur se stap op ‘n slag aangewese. Dans help jou gewrigte in alle toegelate rigtings beweeg en bied ook goeie kardiovaskulêre oefening.
  • Gesonde eetgewoontes is ’n ander aspek wat deur die persoon self beheer kan word.Die Mediterreense dieet word aanbeveel. ‘n Dieet wat anti-inflammatoriese eienskappe bevat behoort ook in die dieet ingesluit te word.
  • Medikasie het ook ‘n plek. Dit sluit in anti-inflamatoriese- en pyn-medikasieen aanvullings. Anti-inflamatoriese en pyn-medikasie moet geneem word soos deur die dokter voorgeskryf is. Aanvullings sluit in vitamins en minerale soos Omega 3, Vitamine D, Magnesium en vele ander en wat kan help met verbetering van algemene gesondheid, bekamping van inflammasie en beheer van chroniese pyn.
  • Ontspanning en bewustelikheid(mindfulness) is twee tegnieke wat gebruik kan word vir hantering van pyn.
  • Verskeie buitemuurse aktiwiteite help met die algemene bevordering van gesondehid en gemoedstoestand.
  • Bevorder jou sosiale ondersteuning stelsels.
  • Chroniese pyn maak mense meer geneig om angstig en depressief te word. Dit is baie belangrike die mense met chroniese pyn ernstig moet omsien na hulle geestesgesondheid.Kry hulp!!!!
  • Nie–chirurgiese prosedures sluit in Pynblok en Radio-Frekwensie behandeling waardeur pyn boodskappe na die brein vir langer periodes geblokkeer word.Hierdie is die prosedure waarvoor Dr Adriaan hom beywer.

 

Aanhangsel uit die pamflet van Dr. Andriaan Liebenberg oor die Radio Frekwensie behandeling.

 

Groepfoto: Vlnr Hanlie Vorster, Rolien Smit, Voorsitter, Dr Adriaan Liebenberg, Mev Jolandi Liebenberg, Wilma van Staden, hurkend, Nina Steenkamp, PA vir Dr Liebenberg.

 

Tussen die verrigtinge deur het pragtige viool- en tjello-musiek die gehoor in ‘n vrolike en jolige stemming geplaas. Liedere soos “Czárdás”, “My Way” en “Nearer My God” is gespeel deur ‘n talentvolle en begaafde Graad nege leerder, Meya, van Mosselbaai. Die gehoor het werklik groot waardering vir haar spel gehad en sy het die oog gevang vir moontlike verdere optredes by ander geleenthede.

Meya besig met haar vioolspel.

Met die bedankings is die groot rol beklemtoon wat die gasvroue van elke tafel gespeel het, met die dek van tafels, en bediening van gaste. Voorsitter, Rolien word vereer vir haar kosbare leiding en harde werk agter die skerms.

Rolien Smit aan die tafel met haar gaste. 

 

‘n Gasvrou met die gaste aan haar tafel.