Sirkel: SWD

Tak: Sedgefield

Portefeulje: Leefstyl

Saamroeper: Kim Naude

Beriggewer: Carin Van Niekerk

Datum van vergadering: 20 Maart 2024

‘n Vrou wil mos mooi wees, glo die dames van VLV Sedgefield

Die Leefstyl-vergadering op 20 Maart 2024 van die VLV Sedgefield-tak was soos altyd leersaam en verrykend. Nidene en Nikki van Image Division in George het die dames kom toespreek oor velsorg en permanente grimering.

Hulle gebruik Lamelle velsorgprodukte wat ‘n Suid-Afrikaanse produk is. Dit is deur dr. Bradley Wagemaker en Tony de Barros ontwikkel. Nidene het die dames aan die verskillende produkte en behandelings van Lamelle voorgestel. Lamelle produkte spits hulle veral toe op tieners, maar ook volwassenes, met akneeprobleme, kliënte wat veroudering wil onderdruk, wat met ‘n droë en sensitiewe vel of met pigmentasie sukkel. Die verskillende serums verrig wondere. Die RFM is ‘n nuwe produk wat met nuwe navorsing veral veroudering teenwerk. Ander produkte op die mark is o.a. ‘n toner, tablette en gel vir pigmentasie, sowel as ‘n produk vir hardkoppige aknee. Die sonskerms is ‘n produk waarop dr Bradley baie trots is. Die Helase 50+ is ontwikkel vir sonskade en teenveroudering. Image Division bied 5 behandelings aan: Microneedling help vir veroudering, pigmentasie en letsels. Chemiese afskilfering help vir voorkoming van en teen veroudering. Gelpolish naels beskadig nie die naels nie en kan tot 14 dae hou. Callux Propedikuur is ‘n absolute wenner. So ook die wenkbrou lig en krul behandeling.

Nikki het daarna aan die beurt gekom met haar praatjie oor permanente grimering. Sy is uitstekend opgelei en haar pad met permanente grimering het in 1998 begin. Sy glo permanente grimering moet natuurlik en klassiek wees. Sy hou daarvan om genoeg tyd saam met die kliënt te spandeer omdat elke kliënt uniek is en dit dan die uitkoms van die permanente grimering bepaal. Die vraag word dikwels gevra of enige iemand permanente grimering kan kry. Die antwoord is dat ‘n Tipe 1 Diabeet, swangerskap en iemand met ernstige velprobleme individueel hanteer moet word, maar dit is nie onmoontlik om dit te kry nie. Nog ‘n vraag is of iemand nie te oud is nie. Haar antwoord aan ouer mense is dat hierdie ouderdomsgroep veral geskik is om permanente grimering te kry, aangesien grimering maklik in die die lyntjies, wat met ouderdom ontwikkel, vassit. Dit raak ook moeiliker om grimering aan te sit as ‘n mens se oë saam met die ouderdom versleg. Die belangrikste rede is egter dat as jy ouer word, jy dit eintlik aan jouself verskuldig is om iets vir jouself, soos permanente grimering, te doen. Sy konsentreer by Image Division op oogomlyner, wenkbroue en lipkleur. Oogomlyner kan bo, onder of bo en onder aangewend word. Oogomlyner laat oë groter vertoon. Daar is verskillende opsies beskikbaar van hoe die oogomlyner moet vertoon. Oogwenkbroue kan met medium bruin, donker bruin, of so sag as moontlik saam met platinum hare gedoen word. Natuurlike haartjietegniek (microblading) is ook beskikbaar. Wanneer die lippe gekleur word, word elke kleur gemeng volgens die kliënt se keuse. Nikki het na afloop van die praatjie vir Kim Naudé ‘n gratis wenkbroubehandeling gegee om sodoende aan al die dames die proses te demonstreer.

Nidene en Nikki van Image Division saam met Kim Naude

Kim Naude se ooghare word voorberei vir die behandeling

Niki gee raad

Niki werk aan Kim se wenkbroubehandeling

Kim se wenkbroue word ingekleur

Kim spog met haar nuwe wenkbroue