Sirkel: SWD
Tak: Oudtshoorn
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Isabella Jansen vN
Fotograaf: Isabella Jansen vN
Datum: 19 Maart 2024
Ek sien …
Opgewonde het die lede die saal binnegekom. Dit was die eerste keer na die SWD Sirkelkonferensie en die lede kon rustig die tak se inskrywings besigtig en amptelik hoor dat die Oudtshoorn-tak ‘n eerste plek vir takke minder as 30 lede tydens die konferensie behaal het. Terwyl die lede om die uitstalling gestaan het, is die stories van die inskrywings vertel, en indrukke van die konferensie en wat ervaar is, is met die lede gedeel.
Anthony Noble vra wat ons op die doek sien.
Wat sien jy? Dis die vraag waarmee die skilder Anthony Noble, die gasspreker, ons aandag trek as hy ‘n wit doek waarop ‘n donker X geverf is aan ons wys.
Ons kon ook nie die potensiaal in die wit doek met die swart X sien toe hy ons daarna vra nie. Verder het die meerderheid lede nie baie waarde aan die doek geheg nie. Anthony wys ons daarop dat ons geneig is om dadelik die negatiewe raak te sien, en dat hy ‘n vermenigvuldig-teken sien. Hy deel sy ma se waarheid dat mens aan jou vriende geken word, en daarom is dit belangrik om te besin saam met wie jy jou tyd deurbring, hulle kan waarde tot jou lewe byvoeg of verminder.
‘n Landskap neem op die doek vorm aan.
Terwyl die skildery begin vorm aanneem, skilder hy ‘n helder ligstraal om die wolke, want elke wolk het ‘n silwer randjie, ook in ons lewe. Die swart strepe in die water word klippe waarmee jy van een kant van die stroom na die ander kant kan beweeg, ons is nie in ons omstandighede vasgevang nie, maar kan kliplangs beweeg. Anthony eindig sy skildery met donker strepe teen die ligbedekte kranse deur aan ons die boodskap te gee dat ons kan kies om op die lig te fokus of ons kan op die donker fokus. Ook dat die donker diepte aan die kranse gee.
Ons sien ‘n waardevolle landskap
Wat sien ons? Kan daar nou meer waarde aan die doek geheg word? Die woorde waarmee hy sy praatjie begin het, kry onmiddellik persoonlike betekenis vir elkeen van ons.
Die voorsitter bedank Anthony vir die pitkos wat hy met ons gedeel het.
Die lede gesels om die teetafel die impak wat hierdie 19 minute op hul siening gehad het.
Leave A Comment