Sirkel: Sirkel SWD

Tak: Klein-Brakrivier

Datum: Februarie & Maart 2024

Beriggewer: Lydie Terblanche

Besige Klein-Brakrivier-lede

The Iconic Tunnel Mosaic Project

Klein-Brakrivier taklede, Franci, Christine & Susánne het op 29 Februarie’24 die moontlikheid van ‘n tak-uitstappie by die Mosaïek tonnel projek in Pinnacle Point Mosselbaai, gaan ondersoek. Tydens hierdie besoek het Amos van der Merwe oor die omvang en simboliek van die projek vertel, waarna dié drie dames die 55 meter tonnel aangepak het. Hulle het vuur en vlam teruggekeer, en die tak gaan binnekort op hierdie uitstappie.

Kobus Smit ‘My foto storie’

14 Maart 2024 het Klein-Brakrivier taklede en fotografie-entoesiaste Franci, Cecilia & Susánne ‘n oggend saam met ander diesulkes by die Strooidak-kerk in Kleinbrak bymekaargekom. Kobus Smit bekroonde fotograaf van Reebok, vertel van sy liefde vir fotografie wat reeds in 1964 begin het. Sy eerste boks kamera het swart & wit foto’s geneem, en daar is meer as 11 publikasies waarin van sy foto’s verskyn het. Taklede sien uit om meer hieroor te leer.

Kom-Bak-Saam

Franci, tak-voorsitter met ‘n huishoudkunde kwalifikasie agter haar naam, het dan ook op Saterdagoggend 16 Maart 2024 haar eerste bak-oggend in Glentana aangebied. Die gedagte met hierdie program, wat nog uitgebrei gaan word, is om dames wat ‘n behoefte het om te leer bak, die nodige vaardigheid te help ontwikkel.

Die eerste twee studente, Juanita Fry en Mila Julie het onder Franci se leiding ʼn heerlike Grenadella- en Kaaskoek, asook ‘n Malvapoeding opgetower. Hulle kon met nuwe kennis, ywer en liplekker resepte huis toe keer. Die plan is dat die Wolwedans gemeenskap een van die dae ʼn hele groep uithaler baksters in hulle midde gaan hê. Ons tak is baie trots op ons talentvolle en ywerige voorsitter.