Sirkel: Overberg

Datum: 13 Maart 2024

Verslaggewer: Letty-Ann Möller

 

VLVK Sirkel Overberg Konferensie 90 Jaar Later

 

Terugvoer van die 90ste VLVK Sirkel Overberg Konferensie met die Gasvroutak, Kleinmond waar elke liewe tak vanjaar ten mínste een trofee gekry het.

Die kompetisie raak tawwer, die deelname word groter en daar is soveel meer gebalanseerde uitslae danksy die groter hoeveelheid lede wat met soveel entoesiasme begin artikels inskryf!

Kleinmond se tak het ‘n besondere standaard gestel en die hand-uitgesoekte sprekers en vermaaklikheidskunstenaars het hierdie konferensie vervolmaak. Die tak met die meeste trofees vanjaar was Caledon. Ons nuwe Overberg Sirkelpresident is Elbé Fourie met nuwe vise-president Magda Marais.

Die Welwillendheidskers is aangesteek deur die voormalige Sirkelpresident, me. Hermien van Zyl (nou weer takvoorsitter van Kleinmond).

Die vergadering is gelei deur die uittredende Sirkelpresident, me. Rienie Lüdick wat ook die oorhandiging van trofeë gedoen het. (Sy sélf het die Voorsitterstrofee van die nuwe Sirkelpresident, Elbé Fourie ontvang!)

Die heildronk van hierdie 90ste Sirkelkonferensie- en ook die 90ste verjaarsdag van die Kleinmondtak- is deur mnr. Cornie Swart, gewese President van Agri Wes-Kaap, ingestel. Hy het dadelik almal se aandag gehad met die woorde: “1934, met die heel eerste Sirkelkonferensie van Overberg, was erger as Covid. Die Groot Griep was erger as Covid.”

Daar was maar 6,5 miljoen mense in Suid-Afrika. Dit was amptelik Depressie in Suid-Afrika… dit is belangrik vir Agri Wes-Kaap om op die vrou in Landbou se bewusmaking te steun. Sy moet haar beslissende stem behou. Sonder Landbou in die Wes-Kaap, wat bly oor? Hy het sy heildronk geëindig met:

“Die vrou in die Overberg het nog áltyd sterk gestaan.”

 

Vanjaar se Dankie Persoon, mnr. Johan Lusse, Algemene Bestuurder Landboudienste (Graan) van Overberg Agri noem dat Overberg Agri (voorheen CRK) reeds in 1918 gestig is en dat Bredasdorp Koöperasie in 1926 gestig is en in 2005 gealgameer het tot Overberg Agri Landbou Beperk. Deesdae is dit ‘n filiaal van Acorn Agri and Food en word ongeveer 30 000 ton graan per jaar geproduseer. Sy stelling dat “…elke boer ook ‘n pa en man is wat staat maak op die steun van sy vrou”, het groot byval by die gehoor gevind.

 

Toesprake deur die Burgemeester van Overstrand, dr. Annelie Rabie en die aanbieder van die televisieprogram, Voetspore, mnr. Johan Badenhorst wat die afgelope 24 jaar 50 lande besoek het en onder andere twee kookboeke geskryf het, het konferensiegangers laat dobber tussen wanhoop en hoop.

 

Hulle slotsom was: raak en blý betrokke by die jeug!

 

Me. Lüdick, uittredende Sirkelpresident, VLVK Sirkel Overberg, het hulde gebring aan haar oorlede man, Hannes, wat haar deurgaans ondersteun het en het afgesluit met die woorde “Mooi loop.  Ek wil vandag sê mooi loop.  Dit sê kyk tog maar waar jy gaan…  Ek gee om.  Jy het ‘n vriendin in my.  Ek dra jou in my hart.  So, mooi loop!”

Agter van links na regs, Lanita Marias (sirkelsekretaresse), Rienie Lüdick (uittredende sirkelpresident), Elbé Fourie (nuwe sirkelpresident) en  Dankie Persoon, mnr. Johan Lusse, Algemene Bestuurder Landboudienste (Graan) van Overberg Agri. Voor sit mnr. Johan Badenhorst (Voetspore),  mnr.Cornie Swart, gewese President van Agri Wes-Kaap en sy vrou.