Sirkel: Middelland
Portefeulje: Konferensie
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 13 Maart 2024
Sirkel Middelland Vier Vars 90ste tydens Konferensie
Sirkel Middelland se 90ste verjaarsdag word tydens Konferensie op 13 Maart 2024 gevier, wat in Gqeberha (PE) deur Hercula-tak aangebied is. Stylvolle, minimalistiese dekor in saliegroen skep ‘n vars gevoel en konferensiegangers verkeer vrolik saam.
Program voorblad
Tafelversiering – glaspotte met enkelblomme
Vooraansig van saal
Konferensie in sitting
Eregaste vir die dag is VLVK President, Estelle du Plessis en vorige Sirkelpresidente, Annette Deyzel en Lynette Martin.
Vlnr Eregaste vorige Sirkelpresident Annette Deyzel; VLVK President Estelle du Plessis en vorige Sirkelpresident Lynette Martin, saam met huidige Sirkelpresident Hannelie Low.
Na die openingsformaliteite is Retief Odendaal, prokureur en politikus van Nelson Mandelabaai, aan die woord. Hy was vir ‘n periode ook hul burgermeester – die jongste persoon ooit wat daar verkies is. Hy gee raad oor hoe om Suid-Afrika weer op te bou. Ons sal elkeen moet inspring en betrokke raak – moenie apaties staan en jou toekoms in die hande van politici los nie – bied hulp aan. Hy is positief oor die land en sy mense.
Vlnr Spreker Advokaat Linda le Roux, Sirkelpresident Hannelie Low, Visepresident Lea van der Vyver, VLVK President Estelle du Plessis en spreker Retief Odendaal.
Tydens teetyd word Sirkel se 90ste verjaarsdagkoek gesny en almal kan smul aan die heerlike kolwyntjies. Dit word uitgestal op unieke houtstaanders wat spesiaal vir die geleentheid gemaak is.
Sirkel se 90ste verjaarsdagkoek gesny deur Sirkelpresident Hannelie Low en Visepresident Lea van der Vyver
Advokaat Linda le Roux werk vir die Nasionale Vervolgingsgesag en spesialiseer in seksuele misdrywe en sake wat kinders raak. Sy deel inligting rondom kuberruim gevare en mensehandel, wat met voorbeelde van werklike sake toegelig word. Suid-Afrika het uitstekende wetgewing in plek vir hierdie misdade. Ouers moet hulle kinders bemagtig met inligting rondom dié gevare – dit is ook in SA ‘n daaglikse realiteit.
In haar presidentsrede verduidelik Sirkelpresident Hannelie Low spanwerk aan die hand van die V-formasie van voëls in die lug. Daar is waardevolle lesse om van die natuur te leer.
Voor ete tree Francois Boyce van “Hoezit Samelewing” op. Hy sing ‘n paar liedjies en lewer ‘n geestelike boodskap. Die lewe het storms – wees geplant by die Bron van Lewende Water. Soos die windpomp meer water gooi wanneer die wind sterk waai, moet ons gedurende storms aan die Here vashou sodat Sy Lewende Water deur ons kan vloei.
Sirkel Middelland bestuur saam met spreker Francois Boyce van Hoezit Samelewing
Agter vlnr Marlene Erasmus, Marlene Basson, Anlouise O’Connell, Lea van der Vyver, Hannelie Low, Mariët van Niekerk, Joey Fourie
Voor vlnr Moniques Büchner, Sanmarie Vermaak, Francois Boyce, Marika Taljaard
Na ete kom die jaarverslag aan die beurt. Daarna deel VLVK President, Estelle du Plessis, wat in haar VLV “tassie” is – wat is belangrik om suksesvol te wees. Die items wat sy uithaal en omskryf is ‘n Bybel, dagboek, VLVK beleidsboek, skêr, grimeersakkie, serp en ‘n kroon.
Tydens die prysuitdeling word trofeë oorhandig aan wenners van Leefstyl en Kunste & Handvlyt-kompetisies. Sirkelpresident Hannelie Low oorhandig ook haar spesiale toekennings.
Die hoofborg van die dag was Mohair SA, terwyl 20 ander borgskappe ook bygedra het tot die sukses van die dag.
Program met lys van borge
Konferensiegangers keer met nuwe moed terug na hulle onderskeie Takke – batterye weer herlaai na die vrolike weersiens van ou VLV-vriendinne, die ontmoet van nuwes en ook bemagtig met waardevolle inligting wat gedeel is.
Hercula-taklede verantwoordelik vir aanbied van Konferensie
Leave A Comment