SIRKEL: NAMAKWALAND

TAK: CALVINIA

PORTEFEULJE: KONFERENSIE 2024

BERIGGEWER: ENA VAN SCHALKWYK

DATUM: 12-13 MAART 2024

 

Calvinia skud vere reg vir Sirkelkonferensie

Al die dames wat die 86ste konferensie bygewoon het van Sirkel Namakwaland

Die 86ste VLV-konferensie van Sirkel Namakwaland het op 12-13 Maart 2024 te Calvinia plaasgevind. Die Konferensie is gesamentlik deur Calvinia- en Hantam-tak gereël. Sewe VLV-takke was teenwoordig: Calvinia, Hantam, Lutzville, Loeriesfontein, Nieuwoudtville, Vanrhynsdorp en Vredendal. Twee dae lank het ongeveer 40 VLV-lede gesellig vergader by Die Barn, net buite Calvinia.

Rika van Zyl (gasspreker)

Die missie van die VLV is volwasse opvoeding. Die tema van die 2024 Konferensie was ONS JEUG, ONS TOEKOMS. Me Rika van Zyl, Bestuurder van Laerskool Calvinia, was die gasspreker. Die gehoor het aandagtig geluister na haar aanbieding oor, onder andere, die hedendaagse uitdagings in die onderwys, en ook na hoe anders vandag se jeug dink en optree as toe ons kinders was! Sy lê groot klem op die rol van die gemeenskap in die jeug se toekoms. Dit is nie net die skool en die regering wat verantwoordelikheid moet aanvaar vir ons jeug nie (It takes a village to raise a child!). Me Van Zyl haal oud-President Mandela aan wat gesê het “Die jeug is die hoop vir ons toekoms – mits hulle reg bestuur word!” Volwassenes moet nie in die verlede bly vassteek en verandering beveg nie – ons moet dit in die regte rigting stuur.

me Desima Beukes. Spreker vir gesondheid, oor asemhaling

Mnr Andrie Pool, spreker vir Openbare Sake, oor hoe om banksake veilig te hou

Me Tanya Storm, spreker vir Leefstyl, oor grimeringswenke

Mnr Thinus van Schalkwyk (Landbou en Tuinbou spreker) oor volhoubaarheid in Landbou

Ander portefeuljes, (behalwe bogenoemde Opvoeding & Kultuur), het ook bygedra om dit ‘n baie leersame en verrykende konferensie te maak. By Gesondheid het me Desima Beukes inligting oor die baie noodsaaklike onderwerp van “Asemhaling” met die gehoor gedeel. Mnr Andrie Pool het kosbare wenke gegee oor maniere om jou bankstate veilig te hou (Openbare Sake). By die Leefstyl-portfeulje het me Tanya Storm die dames se belangstelling geprikkel met interessante wenke oor grimering. Mnr Thinus van Schalkwyk (Landbou & Tuinbou) het besin oor die volhoubaarheid van die Landbou, en hoe landbouers dit oorleef. Hy beklemtoon veral die noodsaaklikheid van die gebruik van tegnologie in die boerdey, en hy spreek sy dank uit teenoor eggenotes wat hul mans in die boerdery ondersteun. By Kunste & Handvlyt deel me Mandie Kotze (Saamroeper) lede een en ander mee oor die onderskeie kompetisie-artikels wat in 2025 beoordeel sal word.

Mnr Frans en me Max Hugo, Dankie-persoon, vir hul ontbaatsugtige diens by Noordwester en Oewernuus

Dit is tradisie dat die VLV ‘n DANKIE-PERSOON in gemeenskappe identifiseer en aan diesulkes ‘n oorkonde oorhandig tydens spesiale geleenthede. Mnr Frans en me Max Hugo is hierdie jaar as DANKIE-PERSONE vereer vir die jarelange onbaatsugtige diens by Noordwester en Oewernuus. Frans het op 4 Julie 1980 sy eerste koerant persklaar gemaak en Max het in 2009 by hom aangesluit. Van daardie tyd af ry Frans elke Donderdag honderde kilometers om die koerant te versprei na afgeleë dorpe. Calvinia is trots op hierdie twee persone en kan nie genoeg dankie sê vir elke Vrydag se leesgenot nie.

Kompetisie afdeling wenners, Vredendal

By die kompetisie-afdeling het Vredendal die meeste punte verower, gevolg deur Lutzville met die tweede meeste punte en Loeriesfontein in die derde plek.

Cowgirls (Denim en Pienk) dinee die Dinsdagaand

Die konferensie was nie net “werk” nie! Dinsdagaand het afgevaardigdes en waarnemers heerlik sosiaal verkeer by Die Barn, net buite Calvinia. Die tema vir die geleentheid was Cowgirls en die kleredrag was Denim en Pienk. Daar is lustig gedans (deur sommige dames!), terwyl almal heerlik aan die spitbraai gesmul het.

Sirkelbestuur van Sirkel Namakwaland