Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Landbou en Tuinbou, Leefstyl

Beriggewer: Ada Gericke

Datum: 12 Maart 2024

Vlinders en Fynproewergeregte vir VLV Voëlvlei

Dit was ‘n opgewonde groep van 26 VLV-lede wat by die Western Cape Butterfly Sanctuary buite Ruiterbos bymekaargekom het vir hul jaarlikse uitstappie.

Met aandag is geluister na die gids wat inligting oorgedra het oor die lewensloop van skoenlappers. Redes vir hul besondere patrone, kleure, groottes, voedsel- sowel as habitatvoorkeure het die lede met verwondering gelaat oor die grootheid van die Skepper van ons Moeder Aarde en haar bewoners. ‘n Wandeling deur die vlindertuine het gevolg met baie “Oe”’s en “Ah”’s. Foto’s is geesdriftig geneem om later by die huis gewys te word.

Op hul terugtog is aangedoen by Misty Valley trouvenue waar Sjef Gericke gedemonstreer het wat hy alles kan skep met suiker van die suikerbeet. Tussendeur is talle fynproewergeregte bedien. Die elegansie waarmee alles voorgesit is het getuig van die fynste kunswerke. Botterkerse in verskillende geure, verskeie vleisborde, swart kraakbeskuitjies, ‘n warm groentegereg en ‘n fees van fyn nagereghappies het die monde behoorlik laat water!

Almal is in goeie gees terug huis toe en sal die besondere uitstappie nog lank onthou.

Botterkerse in verskillende geure en kleure

Die appeltjies word soos toffieappels gedoop in isomalt (gemaak van suiker van suikerbeet)

Voltooide appeltjies lyk pragtig