Sirkel: SWD
Tak: Oudtshoorn
Portefeulje: Kunste & Handvlyt en Leefstyl
Samesteller van berig: Isabella Jansen vN
Fotograwe: Petro Doman, Trienie Barnard, Isabella Jansen vN
Datum: 6 Maart 2024
Oudtshoorn-VLV by die SWD Sirkelkonferensie in Vleesbaai
Die storie agter die storie van die VLV Oudtshoorn-tak se inskrywings vir die SWD Sirkel- en VLVK-kompetisie vir Leefstyl en Kunste & Handvlyt, is nogal ‘n interessante mondvol.
Petro Doman se pampoendeurstop
Vir Petro Doman, die tak se voorsitter en SWD Sirkel se Kunste & Handvlyt saamroeper is Google ‘n bron van nuwe idees, alhoewel nie almal ewe bekostigbaar, uitvoerbaar of relevant is nie. Nadat haar worshond hul huidige volstruisleerdeurstop oordadig “gemerk” het, en dit nie maklik gewas kon word nie, het die idee van ‘n deurstop met ‘n ritssluiter by haar posgevat, en is die denim-pampoendeurstop met skattige muise, wat vir die twee plaaskatte, wat na die dorp emigreer het, vermaak sal verskaf, haar antwoord. Dié deurstop kry ‘n derde plek tydens die SWD Sirkelkonferensie (Kunste & Handvlyt).
Petro Doman se huisies
Petro het ook drie huisies in beeldende kuns ingeskryf wat ‘n tweede plek by die SWD Sirkelkonferensie (Kunste & Handvlyt) gekry het en wat tydens die VLVK-kongres teen die ander sirkels se inskrywings gaan meeding. Vriende wat die Camino Santiago verlede jaar gaan stap en foto’s van die ou geboue en vervalle kerke gestuur het, was haar inspirasie vir die huisies. Petro het verskeie ander items ingeskryf: ‘n portretstudie geskilder, gebottelde stuk makataankonfyt, woordkuns (‘n resensie, en ‘n eenbedryf ter nagedagtenis aan ‘n vriendin wat nie haar kankerstryd oorwin het nie) en fotografie. Sy beskou haar grootste beloning haar eerste plek met mikrogolfbotterbroodjies met ‘n resep wat sy as jong bruid in ‘n resepteboek (Mikrogolf boerekos, Ilze Bunting) gekry het en sedertdien vir hulle gesin bak en deur die jare met ‘n knypie hier en ‘n knippie daar eksperimenteer het tot pure heerlikheid. Sy glo egter die karringmelk in die resep is die eintlike geheim, en saam met kaas en Aromat as geurmiddel is dit ‘n wenner.
Petro Heyns aan’t hekel
Petro Heyns word gereken met haar hekel- en breiwerk in ons tak.
Petro Heyns (heel regs) dra die trui waarvan sy die moue as 5-jarige gebrei het.
Sy vertel van die tyd toe sy as 5-jarige saam met haar ouers in Kaapstad gewoon het, en haar ma vir haar (Petro) ‘n trui gebrei het. Petro het die moue van die trui self gebrei en sedertdien het sy net aanhou brei. Haar wenk om baie egalig te brei is om ‘n oefenlappie met so 20 steke byderhand te hou, As jy na ‘n onderbreking weer begin brei, brei jy eers ‘n paar rye op jou oefenlappie, dit dien as opwarming vir jou vingers en help met egalige brei.
Petro Heyns se trui in die SWD Sirkelkompetisie
Geen wonder die trui wat Petro ingeskryf het, het eerste plek tydens die SWD Sirkelkonferensie behaal en gaan nou op die VLVK-kongres teen die ander sirkels in die Leefstyl-afdelingvir handgebreide truie meeding nie.
Petro Heyns se doilie
Petro Heyns het ook ‘n doilie in die SWD Sirkelkompetisie (Leefstyl) ingeskryf. Sy het haarself uit ‘n boek leer hekel, en onthou nog dat dit een oujaarsaand was destyds toe sy as jong, ongetroude onderwyseres in Touwsrivier gewoon het, net voordat sy ‘n onderwyspos in Oudtshoorn aanvaar het, dat sy besluit het om haarself te leer hekel. In Petro se huis is verskeie hekelartikels wat van haar vaardigheid getuig.
Isabella se kant vir haar voorskoot
Isabella Jansen vN het verskeie artikels in die Leefstyl- en Kuns & Handvlyt-afdelings ingeskryf. Sy is nog ‘n totale groentjie wat VLV-kompetisies betref, maar noem dat dit ‘n geweldig verrykende en leersame ervaring was. Sy sê dat die maak van kant vir die teevoorskoot, totaal buite haar gemaksone was. Die geweefde serp in die weef-afdeling het eerste plek verower en gaan op die VLVK-kongres teen die ander sirkels se geweefde serpe meeding.
Isabella se volstruiseierdopmosaïekbak
Isabella het ook ‘n volstruiseierdopmosaïekbak in die Kuns & Handvlyt-afdeling ingeskryf wat ‘n eerste plek verower het. Sy het dit baie geniet het om mosaïek te doen, en dit gaan beslis by haar lys stokperdjies gevoeg word.
Die saad agter Annette Greeff se kaartjie vir die SWD-Sirkelkompetisie was ‘n demonstrasie oor handgemaakte papier wat Petro Doman gereël het. Annette was dadelik geïnteresseerd, maar het nie ‘n raam gehad om die pulp mee te skep nie, ‘n VLV-lid beraam ‘n plan en ‘n borduurraam wat met ‘n sykous oorgetrek is, word as raam ingespan. Gewapen met ‘n emmer, eierdosies, die buitenste bruin skille van uie en water was sy gerat om papier te maak. Koekversiervorms was die ideale gereedskap om blomme uit die handgemaakte papier te prakseer en siedaar, ‘n kaartjie kry gestalte en verower die eerste plek vir kaartjies van handgemaakte papier tydens die SWD-Sirkelkonferensie se Kunste & Handvlyt-kompetisie.
Annette se gehekelde doilie
Annette is ook kranig met die hekelnaald. Sy het in 1961 by ‘n vriendin van haar ma in Caledon leer hekel. Annette het net nooit opgehou hekel nie. Aanvanklik het sy met wol gehekel en haar eerste projek was ‘n kussing van oumablokkies. Mettertyd het die wol al hoe dunner geword totdat sy met dun hekelgare gehekel het. As sy aan vandag se duur hekelgare dink, vertel Annette nostalgies van daardie jare (dis nou 1967 – 1971) toe sy na skool gou by Stuttafords kon inglip en met R1 drie bolletjies hekelgare gekoop het én 1c kleingeld gekry het. Die doilie-gogga het haar gebyt met die aankoop van ‘n doiliepatroonboek van Leserskring. Annette noem dat dit aanvanklik moeilik was om die krale in te hekel, maar nou ja, aanhouer wen. Annette het later haar ma en ouma leer hekel en haar hekelraad deel sy mildelik. Annette se gehekelde doilie kry die eerste plek vir hekelwerk, doilies, tydens die SWD Sirkelkonferesie se Leefstylkompetisie en gaan verder by die VLVK-kongres teen die ander sirkels deelneem.
Trienie se handgemaakte kaartjie
Trienie Barnard het in een van Oudtshoorn se geskenkwinkels ‘n volstruiseierdopmosaïekbak gesien en die potensiaal daarin raakgesien om ‘n kompetisie-artikel vir Kunste & Handvlyt in die SWD-sirkel te wees (Op daardie stadium was Trienie die SWD-sirkel se saamroeper vir Kunste & Handvlyt). Trienie het ook ‘n mosaïekbak ingeskryf en dié gaan sy beslis gebruik. Om haar kaartjie van handgemaakte papier te maak, moes haar man genoeg olifantmis in die Addo Olifantpark optel. Dié is deeglik by die huis uitgespoel, uitmekaar getrek, ses uur lank gekook, afgespoel en songedroog. Daarna het sy op haar kaartjie, wat ‘n derde plek in die SWD-sirkel (Kunste & Handvlyt) verower het, geskilder, want dis waar Trienie se eintlike passie lê, die skilderkwas.
Trienie besig om te skilder
‘n Portretstudie van haar kleindogter, Mienke, was vir haar besonder lekker en Trienie verower die tweede prys in die skilder van ‘n portretstudie.
Trienie se portretstudie
Ria Davidovitz neem graag foto’s. Sy vertel van hul vakansie in Augustus 2023 waar hulle verskeie roetes gery het, maar veral op grondpaaie. Daar is vir haar ‘n besondere bekoring wat die omgewing langs die grondpaaie bied. Die foto wat sy ingeskryf het, het sy geneem toe hulle een oggend douvoordag die stofpad na die volgende bestemming aandurf. Die heuwel wat skielik voor haar opgedoem het, was soos ‘n nuwe dag wat ontwaak. Nadat sy die foto geneem het, het dit haar laat besin, ons weet nie wat die dag van môre inhou nie, en ons weet nie wat die ander kant van die heuwel vir ons inhou nie. Ons moet net die meeste van elke dag maak.
Ria se foto
Vir Susan Badenhorst wat van vlinders hou, was dit die ideale tema om in haar Shabby Sjiek herinneringsboek te gebruik. Dis nou saam met rose wat haar ma se gunsteling was. Op die buiteblad van haar herinneringsboek is ‘n vlinder wat nog deur haar ouma Sannie Brits gemaak is. Ouma Sannie Brits was as 5-jarige kind in die konsentrasiekamp en het na die oorlog opleiding in een van Emily Hobhouse se werkswinkels ontvang. Die tegniek wat gebruik is, stem met spoelkant ooreen, maar word met ‘n naald gedoen. In Susan se herinneringsboek is ook ‘n strokie kant wat haar ouma as ‘n voorbeeld van ‘n hekelpatroon gemaak het, aangesien patroonboeke nie in daardie tyd geredelik beskikbaar was nie.
Susan se herinneringsboek
Dié dames is dit eens dat dit ‘n aangename ondervinding was om hul kompetisie-items te maak, al was dit soms buite hul gemaksones, en ook dat hulle beslis weer sal deelneem aan toekomstige SWD Sirkel- en VLVK-kompetisies.
Baie dankie, Isasbella. Ons waardeer jou geduld met ons om al die info bymekaar te kry om insette te lewer.
Baie dankie, Isabella. Ons waardeer jou geduld met ons om al die info bymekaar te kry om insette te lewer.
Pragtige artikeks om op trots te wees dames. Ons is baie trots op julle!
Baie dankie Isabella vir jou entoesiasme en liefde vir die VLV en vir al die onbaatsugtige werk en ywer waarmee jy elke taak aanpak.