SIRKEL: Noord-Karoo

TAK: Murraysburg

PORTEFEULJE: Openbare Sake

DATUM: 6 Maart 2024

BERIGGEWER: Theresa Troskie

 

Toerisme: Marelize van Zyl: Aanlynwerk

 

Renée Swanepoel en Marelize van Zyl

Wat beteken dit om aanlyn te werk? Dit beteken jy doen jou werk soos in jou kantoor, maar by die huis. Jy maak gebruik van WhatsApp-oproepe, Skype-oproepe, gewone oproepe en WhatsApp-boodskappe.

 

Gedurende die pandemie moes Marelize van Zyl en haar man noodgedwonge van die huis af werk. Hulle het die voor- en nadele daarvan bespreek en besef dat hul albei se beroepe, met die hedendaagse gevorderde tegnologie tot hul beskikking, by uitstek geskik is om van die huis af te beoefen. Marelize is ‘n reisagent by Pentravel en haar man is ‘n rekeningbestuurder vir sagteware wat deur apteke gebruik word. Hulle het besluit om die stad te verlaat en platteland toe te trek.

 

Hulle moes egter heelwat uitdagings en probleme uitstryk:

  • In die reisbedryf wil sommige klante die reisagent graag sien;

Oplossing: Pentravel het reeds kort voor die pandemie baie geld spandeer aan hul elektroniese stelsels. Die pandemie het alles verander, mense het nie meer so ‘n groot behoefte om agente te sien nie en alles kan aanlyn gedoen word, besprekings sowel as betalings.

  • ‘n Baie goeie en betroubare internetaansluiting was ‘n moet, want hulle moet van 08:00 tot 17:00 beskikbaar wees op hul rekenaars/selfone;

Oplossing: Satellietinternet wat nie afhanklik is van selfoontorings waarvan batterye tydens beurtkrag pap raak nie.

 

Voordele van aanlynwerk op ‘n plattelandse dorp:

  • Dit is tydbesparend.Baie min mense bel en maak praatjies, hulle doen alles aanlyn. Baie min klante bel deesdae, hulle maak eerder gebruik van WhatsApp-boodskappe
  • Jy kan enige plek werk.Jy het net jou skootrekenaar/selfoon en ‘n goeie internetaansluiting nodig.
  • Jy hoef nie meer ure te spandeer in die stadsverkeer op pad werk toe en terug nie.
  • Jy het meer tyd saam met jou gesin.
  • Omdat jy sonder onderbrekings kan werk, is jy baie meer produktief;
  • Jy kan flexityd werk;
  • Jy kan persoonlik aandag gee aan jou huis se dinge en jou kinders;
  • Jy ervaar baie minder stres.

 

Nadele van aanlynwerk op die platteland:

  • Hul privaatlewens en werk oorvleuel;
  • ‘n Mens kan eensaam word, daar is nooit ‘n kollega wat inloer of saam met jou tee drink nie;
  • Jy het nie kans om jou huweliksmaat te mis nie, want julle is die hele dag saam;
  • Jy voel soms vasgevang in jou huis;
  • Jy is nou verantwoordelik vir jou eie daaglikse oorhoofse kostes, bv. jou eie toerusting.

 

Entrepreneurskap: Louw en Adri Krüger: Elsjé Krüger Privaatskool, Murraysburg

Toe Louw en Adri Krüger se oudste kind moes skool toe gaan, het sy ma so pas afgetree as ‘n grondslagfase onderwyseres. Hul seun sou na ‘n naburige dorp moes gaan en in ‘n koshuis moes tuisgaan. Die gesin het saam besluit dat Louw se ma, Elsjé Krüger, vir eers vir hul seun tuisonderrig sou gee. Baie gou het die nuus in Murraysburg versprei en was daar meer en meer ouers wat hul kinders hierby wou laat aansluit.

 

In 2007 het die idee by hulle posgevat om ‘n skooltjie te begin. ‘n Buitegebou is ingerig as ‘n skool met 3 klaskamers. Die skooltjie was eers die Vrolike Vinkies, toe die Melktandjies en later Murraysburg Voorbereiding.

 

Toe Louw se ma skielik sterf, moes die skooltjie met sy een onderwyseres weer herdink word en alles moes herskik word. Daar was baie werk en baie uitdagings wat hulle moes oorkom.

 

Uiteindelik het hulle ‘n NPO (Non profitable organisation/ nie winsgewende organisasie) gestig en die skool het die Elsjé Krüger Privaatskool geword. Die skool word bedryf deur 5 direkteure wat die beheerliggaam vorm. Die skool het 4 gekwalifiseerde onderwyseresse en daar is tans 24 leerders in die skool – tussen voorskools en gr. 7.

 

Elsjé Krüger Privaatskool benodig R400 000 per jaar om al hul verpligtinge na te kom. Dit word tans bedryf teen R2 000 verlies per maand. Om hierdie geld in te samel werk die personeel en ouers hard en hou gereeld fondsinsamelings.

 

Hoë standaarde word vir die skool gestel en die leerplan wat gevolg word, is die nasionale kurrikulum, CAPS. Al die kinders neem byvoorbeeld Afrikaans en Engels as huistaal. Elsje Krüger Privaatskool skakel met ‘n privaatskool in Beaufort-Wes wat goedgunstiglik op baie terreine met hulle saamwerk.

 

Waar kom die gewoonte om verjaarsdae te vier vandaan?

Elana Grobler het gaan naslaan: Reeds 3 000 vC het die Egiptenare hul gode vereer. Die Grieke het die gebruik oorgeneem en kerse op ‘n koek geplaas wat doodgeblaas is. Hulle het geglo dat die rookwalm as die kerse doodgeblaas word na Artemis, godin van die maan, toe gaan. Toe het die Duitsers soet koek begin bak wat veral vir kinderverjaardae gebruik is. Net die rykes kon dit egter bekostig, want suiker en soetigheid was baie duur. Hulle het dan op hul verjaarsdae saam met vriende en familie feesgevier en gemymer oor hul lewens wat verby is en wat alles in hul lewens gebeur het en ook wat in die toekoms voorlê. Verjaarsdae was feestelike geleenthede met al die suiker en soetigheid wat die goedvoelhormone nl. dopamien en serotonien in die brein vrygestel het! Van die vroegste tye af, soos steeds vandag, was verjaarsdae feestelike gebeurtenisse wat liefde en vriendskap simboliseer.