Sirkel: Tygerberg

Tak: Helderberg

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Elsa Hanekom

Datum:   6 Maart 2024

Die oggend begin met Marian Walls (Sameroeper:  Openbare Sake) wat die vergadering open met ‘n roerende gebed.

 

Lorraine la Grange, taklid, bedryf reeds 36 jaar haar eie bestuurskool, Valsbaai Bestuurskool in die Helderbergkom.  Sy gee ‘n oorsig oor die K53 wat sedert 1992 in gebruik is.

 

Die basis van K53 is:  Voorspel, Evalueer en Reageer.

 

Lorraine sê dat baie mense nie weet dat die volgende WEL toelaatbaar is nie:

  • Jy mag kaalvoet bestuur, maar nie met plakkies aan nie.  ‘n Leerder kan, deur kaalvoet te bestuur, die pedale makliker voel.
  • Leerlingbestuurders mag met passasiers ry en hulle mag ook op ‘n deurpad ry.  Dit gee hulle reeds die nodige ervaring in hierdie situasies en is dit nie iets wat eers aangeleer word wanneer hulle die dag hul bestuurslisensie ontvang nie.

 

Die vier basiese reëls van K53 het te doen met waarneming.

  • Kyk gereeld in jou truspieëltjie – ongeveer elke 8 sekondes.
  • Hou die systrate dop.
  • Kyk in jou blindekol voor jy jou flikkerlig aansit en draai.  Moenie net vertrou op die syspieëltjies nie.
  • Stop met albei hande op die stuurwiel, trek die handrem vas en doen ‘n volledige waarneming voor jy wegtrek.

 

Daar is drie tipes padtekens.

  • Inligtingstekens – gewoonlik groen of blou en soms ook bruin in die geval van besienswaardighede
  • Waarskuwingstekens – driehoekige tekens
  • Beveltekens – ronde tekens

 

Na ‘n hewige debat oor veral verkeersirkels, sluit Lorraine af deur te sê jy mag maar jou toeter gebruik indien jy voel jy verkeer in ‘n gevaar situasie.

 

En so kry die hoofspreker van die oggend, Steven, ook uiteindelik geleentheid om die lede meer te vertel oor die Somerset-Wes Nagskuiling.

 

Steven vertel van sy interessant kinderjare waar hy in ‘n wildreservaat grootgeword het en soggens op die rug van ‘n koedoe skool toe gery het.  Na skool is hy weermag toe en is opgelei as ‘n tegnikus in die Poskantoor.

 

Met die uitbreek van Covid-19 het hy sy eie besigheid in KwaZulu-Natal gehad.  Sy besigheid het alles met sekuriteit te doen gehad.  Ongelukkig, soos met so baie ander privaat besighede, het sy besigheid ook nie vir Covid oorleef nie.  Hy het Kaap toe getrek nadat hy vir ‘n werk oor die internet aansoek gedoen het en die pos gekry het.  Aangekom in die Kaap bestaan hierdie maatskappy en derhalwe die pos glad nie.

 

Hy eindig op in ‘n karavaanpark vir behoeftige mense waar hy ‘n maatskaplike werker van die Somerset-Wes Nagskuiling ontmoet.  Hy en sy gesin trek in by die Nagskuiling waar hulle weer op hulle voete gehelp is.

 

Die Nagskuiling gee kos en huisvesting aan enkellopende persone en ook gesinne.  Laasgenoemde word in die familie sentrum akkommodeer waar die hele gesin ‘n kamer deel met ‘n ander gesin – twee gesinne per kamer met ‘n afskorting in die middel.

 

Die Nagskuiling gee nie net kos en slaapplek nie, maar doen moeite om mense op te hef.  Byvoorbeeld, dwelmverslaafdes word gestuur vir rehabilitasie, ander moet uitgaan en werk soek.  Mense word gestuur om kursusse by te woon.

 

Volgens Steven is daar mense wat probeer misbruik maak van die Nagskuiling, maar die Nagskuiling het streng reëls wat hierdie tipe van misbruik teëwerk.

Steven moedig die lede aan om die Nagskuiling te besoek en te gaan gesels met die mense en nie net skenkings te gaan afgee by die maatskaplike werker nie.  Hy vertel van ‘n suster by een van die aftree-oorde wat die Nagskuiling besoek het, met hom aan die gesels geraak het en vertel het dat hulle ‘n sekuriteitswag soek by die aftree-oord.  Steven was net die regte persoon vir die pos en vandag het hy en sy gesin weer hulle eie blyplek en hy en sy vrou ploeg terug en is nog steeds nou betrokke by die Somerset-Wes Nagskuiling.