Sirkel: Paarl
Tak: Slot-van-die-Paarl
Portefeulje: Leefstyl – Naaldwerk
Saamroeper: Marietjie Lombard
Beriggewer: Annalise Loubser
Datum: 5 Maart 2024
Slot-van-die-Paarl leer meer van grootmaatnaaldwerk
Naaldwerkkomitee Annalise Loubser, Nettie Marais en Marietjie Lombard saam met spreker, Janette Hilton-Gericke
Janette Hilton-Gericke het meer kom vertel van Genuine Connection Promotions. Die familiebesigheid het 30 jaar gelede op klein skaal begin, gesukkel, foute gemaak en weer probeer. Vandag is hulle nederig dankbaar vir die groei.
Hulle vervaardig sportklere vir klein en groot kliënte Puma, Adidas, Bafana Bafana, Mamelodi Sundowns, Bulle, Stormers en Two Oceans se 36 000 T-hemde. Privaatskole soos Curro en Reddam maak ook van hulle gebruik. “Casual corporate wear” en vele ander items val onder hulle produkte. Geen bestelling is te klein of te groot nie, solank hulle masjiene dit kan hanteer.
Hulle werk hoofsaaklik met ‘n tipe polyester materiaal. Dit is ‘n ingewikkelde drukproses en versiering vind ook plaas deur masjiene te gebruik, selfs die snyproses vind plaas deur ‘n masjien.
Die hele produksie van die ontwerp tot uiteindelike voltooide produk vind in drie geboue plaas en word deur rekenaarsagteware beheer. Die besigheid verskaf ook indiensopleiding om werkers multidissiplinêre dissiplines aan te leer. Sodoende is persone opgelei om in enige posisie in die produksielyn in geval van afwesigheid diens te doen. Die bestuur probeer om positiewe werksatmosfeer te skep sodat werkers gelukkig is en soos ‘n groot familie saamwerk.
Die tak word uitgenooi om enige tyd die fabriek te besoek. Die uitnodiging word met groot entoesiasme aanvaar. Die tak is met reg trots op hierdie fabriek in die Paarl.
Pragtige uitstallings van lede se naald-, brei- en hekelwerk waarmee hulle op die oomblik besig is, het die saal verfraai en die ander lede geïnspireer. Die nuwe projek van gebreide musse vir die 3 plaaslike landelike skole kan nou met mening gepak word.
Leave A Comment