Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hettie du Plessis-Krüger

Datum: 28 Februarie 2024

 

 

Maryke Strydom het deur middel van ‘n demonstrasie verduidelik hoe om kouse met ‘n breiweefraam te breiweef (“loom knitting”).

 

 

Maryke Strydom met ‘n kous wat gebreiweef is met baie bonkige (“Seriously Chunky”) wol.

 

In Suid-Afrika kry ons net groot weeframe. Die een werk met bonkige (“Chunky”) wol. Die 24-pennetjie breiweefraam werk met baie bonkige (“Seriously Chunky”) wol en is perfek vir slaapsokkies in die winter.

 

Die breiweefraam wat met bonkige (“Chunky”) wol werk.

 

Die 24-pennetjie breiweefraam wat met baie bonkige (“Seriously Chunky”) wol werk.

 

 

Daar is 2 verskillende steke vir kouse –

Koussteek – presies soos tolletjie-brei – om elke pennetjie – en oorgooi

Ribsteek – een steek soos normaal omdraai en oorsit, maar dan bring jy die wol na vorentoe bring, jou pennetjie deur jou steek druk bo, die wol van onder af haak, en deur trek, dan die steek afgooi en die lus wat jy deurgetrek het gaan jy bo-oor jou pennetjie sit.

As ons kyk na kouse is dit belangrik dat ons besef dat daar ‘n groot verskil is tussen ‘n kous (met ‘n hak en ‘n toon), buis-sokkies en booties.

‘n Buis-sokkie lyk byna soos ‘n mus. Dit is net 24 steke wat ribsteek gebreiweef is totdat lank genoeg is. Al 24 steke word saam afgehaal en saamgetrek en weggewerk aan die einde. Daar is geen hak, voet of toon nie.

Die bootie bestaan uit ribstrook bo, dan ‘n tipe hak, ‘n tipe voet en ‘n tipe toon. Dit word bo gehou deur ‘n toutjie. Die toon is egter meer soos ‘n skoen as ‘n kous – dit het ‘n ronding.

Die kous kry ‘n ribstrook wat die kous bo hou. Dan kry jy ‘n been-gedeelte. Dit is die gedeelte tussen die ribstrook tot by die hak. Hierdie gedeelte kan op enige manier gemaak word (koussteek, kabels, kantsteek, of ribsteek). Dan volg die hak-gedeelte. Vir breiweefraam-kouse is daar twee maniere om die hak te breiweef. Die Beginnershak – oor 12 steke brei jy 4 rye, dan verminder jy 3 steke van die 12 aan weerskante. Daarna gaan jy lusse optel. Die ander metode is om stelselmatig oor 12 steke minder steke te brei, totdat daar ‘n derde van die steke oor is, daarna begin jy weer steke raak brei, totdat jy weer oor al 12 steke brei. Van daar af gaan jy oor na die voet toe. Die onderkant van die voet van ‘n kous is altyd koussteek, sodat dit ‘n gemaklike loopoppervlak het. Die bokant kan enige steek wees (koussteek, kabels, kantsteek, of ribsteek). Brei totdat jy by die begin van jou kleintoontjie kom. Dan gaan jy begin om weer jou steke te verminder. Daar is weer twee metodes en dit werk presies soos by die hak. Daar is twee metodes om af te eindig. Jy kan jou naald steek vir steek afhaal aan weerskante – een aan die voetkant, een aan die toonkant, net afhaal en styf trek, jou steke sal dan basies op ‘n koord lê. Werk dit dan netjies weg. Die ander (beter) metode is om die Kitchener-steek te gebruik. Met ‘n naald en garing, brei jy die twee rye aanmekaar vas met koussteek. Dit is ‘n baie netjiese metode.

 

Die twee metodes waarop jy die toon kan toe werk. Die grys toon is net saamgetrek. Die bruin voorbeeld is die Kitchenersteek.