Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Ada Gericke

Datum: 27 Februarie 2024

 

Die lede van Voëlvlei en Herberstdale se VLV-takke, saam met ‘n groot aantal belangstellende gaste, het by hul Februarie-vergadering waardevolle inligting ontvang oor die beheer en behandeling van kroniese pyn.

Dr Adriaan Liebenberg, neurochirurg en mede-eienaar van 18 pynklinieke regoor Suid-Afrika, was die spreker by die geleentheid. Hy het benadruk dat die meeste kroniese pyn as gevolg van osteo-artritis ontstaan. Na sy mening word rugoperasies te dikwels onnodig uitgevoer. Die stappe wat geneem word in die behandeling is gewoonlik verligting deur pille. Iets wat dalk te veel gewig dra.

Volgens dr Liebenberg behoort drie dinge gedoen te word voordat gedink kan word aan operasies. Die drie dinge is: Oefening, Terapie en Opvoeding oor ‘n gesonde leefstyl.

Oefening hoef nie baie streng te wees nie. Stap en dans word veral aanbeveel. Gedurende ‘n huisvrou se dagtake kry sy ook goeie oefening vir haar gewrigte. Dis belangrik dat gewrigte moet bly beweeg.

Terapie, soos gedoen deur bv fisioterapeute, chiropraktisyns en terapeute by die pynklinieke is belangrik wanneer die pyn vir maande of selfs jare aanhou.

Opvoeding behoort van jongs af gedoen te word. ‘n Mediterreense dieet (nie pasta en pizza) behoort gevolg te word. Verkeerde voedselsoorte dra by tot osteo-artritis.

Rugoperasies behoort, volgens dr Liebenberg slegs gedoen te word wanneer verlamming ter sprake is, of wanneer breuke deur bv ongelukke, reggemaak moet word. Verder kan en moet vervangingsoperasies wel gedoen word wanneer ‘n knie of heup of ander gewrig heeltemal vernietig is.

Raad is ook gegee oor middels wat help. Vitamine D3 waarvoor gereelde blootstelling aan sonskyn sorg, vlassaadolie en magnesium wat ontspanne in ‘n bad met Engelse sout opgeneem kan word, is ‘n paar.

Daar is tans twee pynklinieke in die Suid-Kaap, naamlik dié op Knysna en dié op George. Die klinieke het gespesialiseerde gesondheidswerkers wat help met die holistiese beheer van kroniese pyn. Hulle oogmerk is om operasies uit te stel of verkieslik te voorkom. Hulle spesialiseer onder andere in nie-chirurgiese spinale pynbeheer.

Almal teenwoordig het aan dr Liebenberg se lippe gehang en vrae uit die gehoor is baie goed beantwoord. Dit was voorwaar ‘n baie interessante en leersame ondervinding.

Dr Liebenberg saam met een van sy pynkliniek assistente, Nina Steenkamp, en Voëlvlei se Voorsitter, Elize Locke.

Plakkate met verduidelikings van kroniese pyn en behandeling.