Sirkel: SWD
Tak: Sedgefield
Portefeulje: Kultuur
Saamroeper: Miemie De Lange
Beriggewer: Carin Van Niekerk
Datum van vergadering: 21 Februarie 2024
Daar’s iemand…iemand in anys, daar’s ‘n (VLV Sedgefield) vrou in elke geur
Sarie Spruyt van Saries’s Gourmet Market Food & Spice in Knysna het die dames van die VLV-tak Sedgefield op Woensdag 21 Februarie oor kruie, speserye en die liefde vir kos toegespreek. Sarie het ‘n passie vir speserye en kruie en met behulp van baie navorsing oor speserye en kruie, het sy haarself geleer om daarmee te eksperimenteer. Die pragtige dekor, tafelversierings en gepaste eetgoed waarvoor die gasvrouens verantwoordelik was, het luister aan die geleentheid verleen. Sarie het haar praatjie afgeskop deur die alombekende gedig van D.J. Opperman, Sproeireën, voor te lees. Net so ‘n paar reëls uit die gedig om by die praatjie aan te sluit:
My nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand…iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!
Sarie het ‘n inligtingstuk aan elke dame uitgedeel met ‘n volledige uiteensetting van verskillende soorte speserye, die land van herkoms en die gebruik van elkeen. Daar was ‘n uitstalling van ‘n paar van die speserye wat in haar winkel beskikbaar is. Die dames kon na afloop van haar praatjie‘n paar speserye op die proef stel. Sy het ‘n paar nuttige wenke oor die kook met kruie gedeel:
- Tiemie is ‘n veelsydige krui wat baie verskillende bestanddele komplimenteer. Probeer dit saam met vrugte soos pere of perskes rooster. ‘n Mens kan ook ‘n tiemestroop maak en dit by vrugteslaai voeg.
- Ment verskaf ‘n verfrissende geur aan drankies en kos. Roer ‘n handvol gekapte ment by gaar couscous, of by ‘n slaai van komkommer en feta. Dit werk ook uitstekend saam met hoender en lam.
- Grasuie sal ‘n ligte uiegeur aan enige gereg verleen. Probeer vars, gesnipperde grasuie in knoffelbrood, meng dit met botter en sit dit voor saam met groenmielies, of gooi dit in roereier of ‘n omelet.
- Roosmaryn word dikwels in Mediterreense geregte gebruik. Dit het ‘n sterk, aromatiese geur wat die perfekte pasmaat vir lamsvleis is. Brand ook ‘n paar takkies roosmaryn saam met jou hout wanneer jy braai – dit verskaf ‘n wonderlike geur aan die vleis.
- Origanum is heerlik saam met tamaties, eiervrug en lam. Sprinkel dit oor ‘n pizza of Griekse slaai.
- Basilie kan in enige Mediterreense kos, of in Oosterse roerbraai- of kerriegeregte gebruik word.
- Brandnetels is volop in die lente. Baie mense beskou dit as ‘n onkruid, maar dié nuttige krui kan soos groente gekook word en amper soos spinasie in pastasouse, bredies of sop gebruik word. Dit het talle gesondheidsvoordele en is ‘n ryk bron van antioksidante en vesel.
- Vinkel het ‘n lieflike geur en is ‘n goeie pasmaat vir geregte wat sitrus bevat. Kap dit fyn en gebruik dit in slaai, vrugtedrankies en sorbet. Die delikate geur gaan verlore as dit vir te lank gaargemaak word – voeg dit dus eers by kort voor die kos voorgesit word. Dit is ‘n goeie pasmaat vir vis, hoender, vark en lam.
- Koljander is baie gewild in Mexikaanse, Indiese en Thaise geregte. Dit verrig wondere in bredies, kerriegeregte, sop, slaai, roerbraai- en eiergeregte, en ook in doop-en slaaisouse. Voeg dit naby aan die einde van die gaarmaaktyd by om die eiesoortige vars geur te behou.
Daarna het Sarie interessante historiese inligting oor kruie en speserye met die dames gedeel. Daar word vermoed dat kruie en speserye alreeds in die Steentydperk bekend was, en bewyse is gevind dat kruie reeds teen 4000 v.C. in Europa gebruik is. Daar is ook verwysings na gebruike deur die ou Griekse en Babiloniese beskawing gevind. Die Babiloniese vorstehuis het kruietuine gehad. Kruietuine is ook in die Middeleeue by kloosters en kastele in Europa aangelê. Marco Polo het in die 13e eeu op sy reise na die Ooste kennis gemaak met ‘n rykdom van speserye. Toe Vasco da Gama in 1497 die seeroete na die Ooste finaal ontdek het, was speserye reeds gesog by Westerlinge wat dit moontlik den duurste bekom het. Die Molukke het hierna as die Spesery-eilande bekendgestaan. Peper was die kosbaarste spesery, en is in die antieke tyd en later in die Middeleeue as betaalmiddel in die plek van muntstukke gebruik. Transaksies in die Romeinse Ryk v.C. is byvoorbeeld met massas peper beklink, en peper is later ook in Brittanje vir die betaling van eiendomshuur gebruik.
Miemie De Lange en Sarie Spruyt
Lekker speserye om te proe
Die dames ruik en proe
Sarie se speserye
Leave A Comment