Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Potpourri-Vergadering
Datum: 7 Februarie 2024
Beriggewer: Theresa Troskie

Murraysburg VLV skop die jaar af met ‘n baie interessante en vrolike byeenkoms.

Interessante geskiedenis van Murraysburg, ons tuisdorp:
Renée Swanepoel lig interessanthede uit die Murraysburg Eeufeesprogram van 1955 uit.
 Name van ou bekendes en hul pligte tydens die fees;
 Elke vereniging en openbare instansie van die dorp het deelgeneem aan die program, die VLV, kerk, dorpsraad, boerevereniging, munisipaliteit, ens: Die Munisipaliteit het byvoorbeeld ‘n kinderspel op die planke gebring. Tannie Dorees Pienaar, steeds een van ons getrouste lede (65 jaar lid) was bv. deel van ‘n groep wat die mazurka gedans het!

Hannelize van Heerden, saamroeper van Opvoeding en kultuur, het ‘n baie interessante vasvrakompetisie oor Murraysburg se geskiedenis uitgeskryf wat deur Adri Krüger hanteer is:
Vrae soos die volgende is gevra:
 Hoeveel prokureursfirmas was op ‘n sekere tyd in Murraysburg?
 Op watter plaas sou Murraysburg oorspronklik aangelê word?
 Wie het die eerste kar in Murraysburg gehad?
Kay Hesselink was die wenner!

Ons sameroeper van Landbou en Tuinbou, Elana Grobler, deel inligtingstukke uit oor wat in Maart in die tuin gedoen moet word.

Renée Swanepoel wys en demonstreer twee oulike nuwe katoeters en ‘n nuwe speletjie wat sy onlangs in die winkels raakgeloop het:

 Vir die uitermate warm dae, is daar ‘n “koue handdoekie” by sportwinkels te kry. Jy maak hom met kraanwater nat en die spesiale materiaal waarvan hy gemaak is, maak hom heerlik koel. Hiermee kan jou nek, gesig, arms, ens. heerlik verkoel word.

 Tweedens wys sy vir ons ’n niervormige kussinkie wat met velcro aan ‘n veiligheidsgordel vasgesit kan word vir wanneer jy ‘n uiltjie wil knip tydens ‘n lang reis. Hierdie kussinkie hou jou kop regop en voorkom ‘n stywe nek!

 Die speletjie “Speak Out” is definitief geskep om baie genot te verskaf! Die spelers sit elkeen ‘n mondstuk in wat die lippe ooptrek – jy sien net tande en mangels! Dan is daar kaartjies met vrae wat die spelers met die mondstukke in vir mekaar moet vra. Dit gee so ‘n gelag af dat die vrae sekerlik selde gevra of beantwoord word! Verder is daar ‘n tydhouertjie en ‘n bord wat die spelers se vordering aantoon. Renée vertoon ook ‘n video van hoe die speletjie gespeel moet word. Dit sorg vir groot pret!

Maretta Theron, saamroeper van Gesondheid, gee ‘n baie insiggewende praatjie oor skisofrenie. Sy het al persoonlik daarmee kennis gemaak en wys ook feite en bogstories daaroor uit.

Skisofrenie is ‘n moeilike siekte om te verstaan, asook om te diagnoseer. Skisofrenie beteken nie ‘n “gesplete persoonlikheid” nie. Slegs in ekstreme gevalle van skisofrenie word permanente hospitalisering nodig. Aldus Louis Awerbach (kliniese sielkundige van Stellenbosch) is dit “’n ernstige kondisie van die brein waar mense die realiteit anders as die gemiddelde persoon ervaar.” “Skisofrenie kom ook baie saam met ander psigiatriese toestande voor, soos angsverwante toestande en fobies, asook veral obsessief-kompulsiewe versteuring.”

Simptome:
 Terugvalle en hallusinasies (dinge sien of hoor wat nie bestaan nie);
 Delusies (vreemde oortuigings, bv. dat die persoon Jesus is);
 Deurmekaar, onlogiese spraak;
 Afgestompte of ontoepaslike emosies (bv.giggel by ‘n hartseer geleentheid);
 Geen plesier in sosialisering of aktiwiteite waarin die meeste mense genot vind nie;
 Gebrek aan inisiatief om belangrike take te voltooi (basiese selfsorg, gereeld bad en eet);
 Sosiale probleme bv. werkloosheid, lae tot geen inkomste en uitbuiting deur ander mense.

Awerbach sê voorts dat dit algemeen aanvaar word dat skisofrenie ‘n sterk genetiese basis as oorsaak het, maar dat omgewingsfaktore (bv. die gebruik van cannabis/dagga tydens tienerjare, infeksies en ondervoeding tydens swangerskap) ook ‘n rol kan speel. Mans is meer vatbaar hiervoor en simptome begin gewoonlik in mense se twintigerjare duidelik waarneembaar word. In vergelyking tot die gemiddelde populasie is mense met skisofrenie daarom ‘n groter selfdoodrisiko en ‘n groter risiko vir medies-verwante probleme.

Al is skisofrenie gewoonlik ‘n lewenslange kondisie, kan die meeste simptome verbeter met behandeling. Die meeste mense met skisofrenie wat die regte medikasie en sielkundige behandeling kry, se simptome en kwaliteit van lewe verbeter en hulle funksioneer oor die algemeen langer sonder terugvalle.