Sirkel: SWD

Tak: Klein-Brakrivier

Studierigting:Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Lydie Terblanche

Datum: 6 Februarie 2024

 Klein-Brakrivier VLV-lede, Franci en Lydie het Dinsdag 6 Februarie by die Palms Kwekery, saam met die Midbrak Tuinbouklub en ander tuinliefhebbers na die bekende radio- en televisiepersoonlikheid, JJ v Rensburg, se begeesterde inligtingsessie gaan luister.

JJ, met sy uitgebreide kennis oor tuinmaak en 28 jaar tuinbou ondervinding, het saam met Paul Hartzenberg en die span van Protek, vir tuinliefhebbers ‘n heerlike kuiergeleendheid gebied. JJ, wat na afloop van die aanbieding op ‘n vlug terug na Australië moes spring, het met sy normale opgewekte en gemaklike manier teen ‘n vinnige trant, inligting oor tuinbou in Australië en hier ter plaatse gedeel.

Oor Australië het hy genoem dat hulle baie trots op hulle inheemse bome is, daai indringer bome hier by ons, bloekoms, kom van Australië, 600-800 verskillende soorte! Daar is ook min werkers daar, so alles in tuine word so maklik as moontlik gemaak, onder meer grys-water-sisteme, watertenks en battery aangedrewe toerusting.

Hier by ons het JJ ‘n hele klomp, meestal bekende feite, weer beklemtoon.

  • Kyk na jou grond kwaliteit
  • Gebruik goeie kompos
  • Gebruik ‘n deklaag
  • Moenie jou beddings omspit nie, die son brand die mikrobes dood
  • Sodawater sit suurstof terug in potplante
  • Coke gee aminosure
  • Epsomsout kan magnesium vergiftiging meebring, moenie oordoen nie
  • Lees aanwysings van tuinprodukte indien jy dit gebruik
  • Nee vir skottelgoedseep in tuine, dit maak die waslaag van blare dood
  • Wit asyn kan grond te suur maak
  • Gypsum (gips) kan help vir vetterige grond
  • Wasgoed seep (nie skottelgoedseep nie), kan ook help vir vetterige grond
  • Kwano is goeie bemesting
  • Landboukalk is beter as koeksoda om grond alkalies te maak
  • Fynbos hou nie van fosfate nie (beenmeel gee baie fosfate)

Die volgepakte area met entoesiastiese gaste, het hom met vrae gepeper. Hy was gereed met wenke en aanbevelings, natuurlik met sy bekende sin vir humor aangebied. So het hy verwys na die drie tipe tuiniers wat hy al teëgekom het, stoep-tuiniers wat vanaf die stoep opdragte gee, toon-tuiniers wat met die toon aandui waar wat gedoen moet word, en dan ware tuiniers wat self met hande in die grond werk. Ook dat almal moet vra, ‘hoeveel somers het ek oor’ en dit die beste tuin-jare ooit moet maak. Hy het weer beklemtoon dat tuiniers moet spog met hulle tuine, dit geniet, nuwe idees moet probeer en van ‘n gekwalifiseerde tuinkenner raad moet vra.

JJ se kernboodskap, behalwe al die tuinwenke en -inligting, was dat Suid-Afrikaners dankbaar moet wees vir wat hulle het, veral in terme van die natuur. Die natuur moet nie net bewaar word nie, maar almal moet daarvoor verantwoordelikheid neem, dit is nie net ‘n handjievol mense se taak nie.

Die geleentheid is afgesluit met keurige eetgoed, asook gelukkige trekkings van Protek.

 

 

 

 

 

Paul Hartzenburg links en JJ van Rensburg, regs.

 

 

 

 

 

Franci en Lydie