Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Studierigting: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Letty-Ann Möller
Datum: 6 Februarie 2024
Gasspreker Pierre Vlok, gebore op Sutherland waar hy met sy klasmaat getroud is, 30 jaar ‘n weermagoffisier, 40 jaar betrokke in die wolbedryf, 14 jaar self geboer en die afgelope 20 jaar is hy Streekbestuurder Wol by BKB.
Merino –wolskaap, waarvoor die Overberg so bekend is.
“Meeste mense weet dat wol van ‘n skaap afgeskeer word maar dis ‘n antieke proses. Dit kom uit die Bybel-tyd. In die antieke tyd was daar twee maniere van skaap se wol in die hande kry. Dis eintlik skrikwekkend. Die een is om te skeer en die ander een is om te pluk …met ‘n tang word die wol afgepluk van die dier af en ek dink dit is baie wreed. Dis barbaars. Dit is verskriklik, maar dit het gebeur”, so begin Pierre Vlok, gasspreker by die VLV Bredasdorp tak se Landbouvergadering onder leiding van Diana Odendaal, ons tak se Landbou Sameroeper, sy toespraak op 6 Februarie 2024 in die Overberg Agri Opleidingsaal.
In die Ou Testament lees ons dat as die lammetjie die eerste keer op so 3 tot 5 maande geskeer word, word die wol gewas en aan die priester gegee. So waardevol was wol. Die Bybel praat ook van die “skeerhuis” (I Kon.) waar hulle toe al ‘n tipe skêr (dubbel messe) gehad het om die wol te knip. Die skeer van skape was bekend onder die Grieke reeds 800 jaar v.C. “Dis ongelooflik om te hoor hoe ver ontwikkeld daardie beskawing was,” sê Pierre verder.
In antieke Rome was die gebruik baie sterk om wol te pluk eerder as om te skeer. Vir honderde jare was dit die Romeinse gebruik. Die woord ‘vag’ het sy oorsprong van ‘n soortgelyke Latynse woord wat verwys na die heuwel waarop die skape geskeer is.
Die eerste skaapskêre waarvan ons weet was so 300 jaar voor Christus. Die Grieke het kolonies gehad in Italië waarna hulle hulle skape gebring het en daar het die Romeine kom kyk en gesien maar die Grieke skeer hulle skape so. En die Romeine het dit geleer by die Grieke en toe het hulle vir hulle ook skêre gemaak. Maar die Grieke was ver gevorderd. Ver bo die Romeine. Dit was ‘n baie sterk beskawing gewees.
Nog ‘n interessantheid van die antieke tyd is dat die pasgebore lammetjie se hele lyf en vaggie ingevryf was met wyn en olie en dis ook met wit was en vet ingesmeer en die rede daarvoor was om die wol te kry om sag uit te groei, maar dat hy ook suiwer uitgroei en dat hy mooi wit word as hy uitgegroei is.
Hulle het ‘n baie hoë premie geplaas op wit wol en goeie hantering. Lekker sagte hantering. In daai tyd is skape twee maal geskeer. Dit het nie verander nie. 6 maande van skeer is maar die manier wat hulle dit in die Overberg en in die Swartland doen. Dit pas in met die ander landbou aktiwiteite waarmee die boer hier besig is. En die skape is op matte geskeer want die ouens het omgegee vir die wol. Twee skeerders op ‘n slag op die mat. Daar was op kleiner skaal as vandag geboer maar hulle het baie beter na hulle wol gekyk alhoewel hulle wol baie swakker was as die kwaliteit wol van vandag. Hulle het net geskeer van 10 vm tot 2 nm want dan was die son op sy sterkste. Hulle was ongeletterd en het volgens die stand van die maan hulle skape geskeer. Die wol is op die skaap se rug gewas…nie soos ons vandag wat ons eers die afgeskeerde wol was nie. In die middel 19de eeu het hulle steeds die wol op die rug van die skaap gewas in Australië en in Nieu- Seeland. Daar staan die skaap in ‘n stroom en word dit met ‘n stok (soortgelyk aan ‘n mop) gewas.
“In die middel 1900’s, in die Groot Karoo, was daar ‘n boer hier by ons wat ‘n rivier op die klipbanke gehad het en dan het hy ‘n kraal gemaak daar in die middel van die rivier – daar waar die water nie te sterk loop nie en daar het die manne so sewe, agt langs mekaar gestaan en dan was hulle die skaap en dan sit hulle hulle uit op die klipbanke. Daar was ‘n vangkraal of ‘n hou-kraal gewees.” Dan staan hulle en drup droog daar op die klipbanke. “Sulke moeite het die mense gemaak om hulle wol mooi te kry en dit was duur wol en dit was dan bemark as ‘mooi wit wol en hulle het ‘n goeie prys gekry.” So dan die skaapskeertradisies!
Nog ‘n ou tradisie was om die skape op ‘n bondel te jaag dat hulle kan sweet sodat die wol sagter kan raak voordat dit afgeskeer word die volgende môre.
Pierre Vlok, wolgradeerder van die Overberg, sluit af met ‘n aanhaling van Breyten Breytenbach: “Mag die bome groen wees en die sterre wit en mag daar altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk want die lewe is maar net ‘n asem lank.”
Dankie.