Sirkel: Paarl
Tak: Slot van die Paarl
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Annalise Loubser
Datum: 6 Februarie 2024
Voorsitter Aletta Keyser, Spreker Lizl Louw en Saamroeper Maretha Carpenter
2024 is verkiesingsjaar!!
Lizl Louw van die OVK kantoor in Worcester kom deel bietjie van die agter-die-skerms-werksaamhede van die OVK. Mense vra gereeld vir haar of dit ‘n permanente werk is. Die Munisipale verkiesings en Nasionale verkiesings vind elke 5 jaar plaas, maar nooit in dieselfde jaar nie. Tussen-in is daar ook nog tussenverkiesings as raadslede te sterwe kom of bedank.
Waar begin mens om ‘n verkiesing te beplan? Die afbakeningsraad bepaal die wyksgrense en munisipale grense. As ‘n wyk baie digbevolk is, word dit verdeel. Omdat wyke verdeel, kan jy dalk nou in ‘n ander wyk stem al het jy nie getrek nie. Dit is dus belangrik om jou registrasie na te gaan en te kyk by watter stempunt binne-in ‘n wyk jy moet stem. Die OVK is gereeld besig met die kiesersrol en of dit so akkuraat moontlik is; dit is die OVK se mandaat volgens die grondwet.
Die oomblik wanneer die President die verkiesingsdatum bekend maak, sluit die kiesersrol en is daar nie meer registrasies nie. Daarna is daar ‘n tydlyn waarvolgens die OVK hulle werk indeel, bv die verkryging van spesiale stemme. Dit is nogal iets wat deur party mense misbruik word omdat die aanlynaansoek nie na mediese besonderhede vra nie en mense is te lui om na ‘n stemlokaal te gaan.
Mense kan aanlyn aansoek doen om by die stempunte te werk. Sodanige mense word dan opgelei. Daar is heelwat wetgewing betrokke by die opleiding. Elke lokaal het ‘n bestuurder wie se naam voorgelê word aan die politieke partye vir goedkeuring. Daar is heelwat vangnette om die “regte” mense op die verkiesingsdag te hê om die werk te doen.
Dit is ‘n groot proses om by ‘n ander plek te stem. Die datum, waar mens die OVK kennis gee dat jy nie naby jou normale stembus gaan wees op verkiesingsdag nie, sal ook op die tydlyn wees; jy is dalk in ‘n ander provinsie met vakansie. Suid-Afrikaners wat oorsee is, kan ook stem; hulle moet net geregistreer wees.
Die personeel wat die stembus beman gedurende die verkiesingsdag, doen ook die tellery. Die publiek moet dus geduldig wees met die bekendmaking van die uitslae.
Leave A Comment