Sirkel Worcester

Tak:  VLV Ceres

Openingsvergadeing

Beriggewer:  Louwna Hoving

Datum:  30 Januarie 2024

WAT DOEN ONS ALLES BY VLV?

Elke saamroeper het ‘n geleentheid gekry om die studierigtings van die VLV bekend te stel.

Die saal was  vroulik versier  met ‘n vrugterangskikking, kunsuitstalling en pragtige blomme op die tafels.

LANDBOU EN TUINBOU:  Joy van Biljon het ‘n uitstalling gemaak van verskillende plastiek- en karton-verpakkingsmateriaal.  Sy verduidelik hoe die verpakking en bemarking van die vrugte van die omgewing gedoen word en wys voorbeelde van pere en appels met skaafmerke of watmisvorm is en dus nie verpak en bemark kan word nie.  Daar is geen probleem met die vrug nie.

Kopers stel nie daarin belang nie.  Sy wys ook plastieksakkies wat deur skoolvoedingskemas in Suid-Afrika en oorsee gebruik word vir appels en pere.  In Suid-Afrika het dit ‘n boodskap vir renosterbewaring op.

Sy deel ook ‘n inligtingstuk oor Ceres se nuwe herwinningsprojek uit wat deur die Munisipaliteit vanaf Januarie 2024 geloods word.

  • Deurskynende hersirkuleersakke word gratis voorsien en word op dieselfde dag as die swart sakke uitgesit.
  • Inwoners wat hul eie (15 liter) gevulde sakke na die herwinningsaanleg bring en hul munisipale rekening toon, kan afslag op die vullisverwyderingstarief verkry. (Kontaknommer: 023 316 1854)
  • Maandae word Ceres- en Vrydae die Hamletarea se sakke verwyder.
  • Die volgende kan hersirkuleer word: papier, koerante en plat karton, blikke en kannetjies, skoongemaak, plastiek, leë bottels, doppies apart, Tetrapak en glas.
  • Kan nie hersirkuleer nie: nat of vuil papier en karton, gegomde en gelamineerde papier, honde- en katkossakke, kleefplastiek, plastiek koshouers, weggooidoeke en organiese afval, fluorescent ligte, batterye en olie.

GESONDHEID: Vicki Ferreira en Marjan Starke demonstreer maklike Pilates-oefening beskikbaar vir ouer dames om deur korrekte asemhaling hul longe se absorpsie van suurstof te verbeter; rekoefeninge om spiere soepel te hou, asook baloefeninge;  balansoefeninge en toon- en voetoefeninge om konsentrasie te verbeter en boudoefeninge om die blaas te stimuleer.

   

 

TUISTESKEPPING:  Wilna van Wyk demonstreer die maak van ‘n voorgereg, geroosterde tamaties op jogurt en  ‘n slaai, geroosterde patat en rooivyeslaai.  Die lede kon dit proe en die resepte word aan lede uitgedeel

NAALDWERK:  Saamroeper:   Rita Gresse stel die programleiding vir naaldwerk bekend en moedig lede aan om deel te neem aan die kompetisie, maar om eers die wenke te lees en in ag te neem.  2025 se VLVK-kompetisies word bekendgestel en sal aan lede ge-e-pos word.  Haar komiteelede vertoon pragtige hekel-, brei-, naald- en borduurwerk wat hulle gemaak het.

VOORDRAG:  Louwna Hoving dra ‘n kompetisiegedig, Ligvoets deur die lewe, deur haarself geskryf, voor.  Dit handel oor wat ons doen en leer by die VLV.

OPVOEDING EN KULTUUR:  Linda Smit:  Opvoeding van ons jeug, ons kinders wek groot kommer.  R309 miljard is begroot en wat sien ons daarvan?  Opslaankamers sonder toilette en water word opgerig wat nie aanvaarbaar is nie.  80% van graad 4-leerders kan nie behoorlik lees nie, min skole beskik oor behoorlik toegeruste laboratoriums, leerders stap 12 tot 15 kilometer skool toe.  Afgestudeerde kinders word heeltemal buite hulle milieu, ver van hul ouerhuise, sonder vervoer met geen paaie geplaas om hul Zuma-jaar te doen en wat doen ons daaromtrent?

Dit het tyd geword dat ons sigbaar en hoorbaar word.

OPENBARE SAKE:  Vicki Ferreira, geklee in ‘n korrektiewe dienste baadjie van ‘n prisonier verduidelik die stappe wat ‘n oortreder se verhoor volg:  die misdryf word eers deur die polisie ondersoek met identifikasie, plek van misdryf en handeling.  Daarna word ‘n dossier geopen, verklarings word afgelê en foto’s en vingerafdrukke word geneem.  Elke saak het meriete en moet sensitief hanteer word sonder aantasting van integriteit of dat die verdagte se waardigheid geskend word.  Die aanklaer moet toesien dat daar genoeg getuies is en dat die persoon regshulp verkry vir die hofverskyning.  Indien die verdagte onskuldig pleit kan die verhoor voortgaan, maar as die verdagte skuldig pleit word die saak uitgestel om vorige oortredings te ondersoek met behulp van vingerafdrukke.  Getuies kan gebruik word as verswarende- of versagtende vonnisse, waarna die landdros dan die vonnis uitspreek.

KUNSTE EN HANDVLYT: Hannelie van Schalkwyk stal verskeie skilderye uit van Vicki Ferreira, Irma Coetzee en Susan Blomerus.  Laasgenoemde geniet kuns. Dit maak haar oë oop vir die mooi rondom haar. Om te skep is om te gee en maak jou nederig en bewus van jou eie onvermoë.

‘n Skildery van haar met die tema “Surrealisme” se simboliek word bespreek:  Eet die Woord:  Die woorde en inhoud met die lees van die Bybel is soos heuning wat drup – soet en geneeskragtig,  die boekmerk is die lepel wat dit opvang.  Die Brood van die Lewe is soos koringkorrels en ryp koringare wat groei.  Die mes is skerper as ‘n swaard met twee snykante en sny diep binne-in die innerlike wese en vlek diep motiewe en oorwegings oop (Heb. 4:12)