Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 23 Januarie 2023
WAARDES EN WAARHEDE VIR VOËLVLEI VLV
Voëlvlei se VLV-tak het die jaar afgeskop met ‘n heerlike potpourri van interessante insetsels. Elke lid van die bestuur het ‘n kans gekry om inligting te verskaf oor haar spesifieke studierigting. Met musiek wat eers gespeel is, moes die lede raai watter studierigting aan die beurt is. Daarna het die sprekers met kleredrag wat daarby pas, hul insetsels gelewer.
Van die onderwerpe was voedselsekerheid vir landbou, die voordele van pampoen in die dieet vir leefstyl, veiligheid en samewerking met polisie vir openbare sake, die vele vorms van kuns en handvlyt en al die moontlike afdelings wat in gesondheid bespreek en behandel kan word.
Die voorsitter en sekretaresse het die geskiedenis en ontstaan van VLV-Kaapland en die verloop en groei van die organisasie tot vandag toe oorgedra. Hulle het dit kompleet in hoed en handskoene soos die dames van destyds aangetrek het vir vergaderings, gedoen.
Die gasspreker vir die dag was Dr Thys Smit vir opvoeding en kultuur. Hy het die boekie, “Waardes vir Kleutertjies en kinders” kom bekendstel. Dit is gemik daarop om by kleuters tussen 3 en 6 jaar oud waardes vas te lê en is bedoel vir kleuterskole, ouers, opvoeders en almal wat gemoeid is met die grootmaak van kinders met gesonde waardes. Elke waarde word met ‘n gepaste storie, rympie en liedjie vasgelê.
As jy ‘n gehoorsame, gedissiplineerde, eerlike kind met goeie maniere en respek wil opvoed, is hierdie boekie ‘n wonderlike handleiding. Die waarde daarvan sal sorg dat kinders se selfbeeld so positief sal wees dat hulle met dankbaarheid, mededeelsaamheid en met liefde en omgee verantwoordelike mense sal wees, hul lewens lank.
Voëlvlei VLV het hierdie geleentheid aangegryp en 5 boekies gekoop om te skenk vir die Graad R-klassies van Albertinia Hoërskool en Oker Primêr.
Na al die inligting is gesellig verkeer en is die lede huis toe met baie om te oordink.
Die voorblad van die boekie wat bekendgestel is
‘n Uittreksel uit die boekie
Dr Thys Smit, Voorsitter, Direksie van Kinderland Akademie
Leave A Comment