Sirkel: SWD
Tak: Sedgefield
Portefeulje: Landbou en Tuinbou & Opvoeding en Kultuur
Saamroeper: Miemie de Lange
Beriggewer: Carin van Niekerk
Datum van vergadering: 17 Januarie 2024
Ereveldwagter leer Sedgefiled VLV meer van die boom en voël van die jaar
Die Sedgefield VLV-tak se eerste vergadering vir 2024, op Woensdag 17 Januarie was hoofsaaklik ‘n inligtingsvergadering waar die dames met ‘n leersame praatjie getrakteer is. Lynne McEwan, ereveldwagter van SANParke se Wildernis-distrik, het die dames meer kom vertel van SA se bome en voël van die jaar.
Die Berghaan, ook bekend as die Bateleur, kom nie in die Tuinroete voor nie, maar wel in streke soos die Kalahari en Krugerwildtuin. Dit is pragtige voëls met ‘n geel en rooi gesig. Hulle het ‘n baie kort stert met ‘n wye vlerkspan wat die stert verberg. Dit is baie grasieuse voëls met ‘n kenmerkende tuimel as hulle vlieg. Hulle kan 8 tot 9 uur per dag vlieg om kos te kry, en is baie lief om te vlieg. Hulle eet o.a. voëltjies en oorblyfsels van karkasse, maar is veral lief vir slange. Daarom word hulle die slangarend genoem. Die wyfie is groter as die mannetjie. Hulle het lewenslank slegs een paarmaat. Die paringsproses in die lug is ‘n uitsonderlike vertoning. Hulle lewensverwagting is 27 tot 30 jaar oud. Hulle bou hulle nes hoog in bome en daar word slegs 1 eier per keer gelê. Die eier ontwikkel nie altyd in ‘n kuiken nie en daarom word hulle as ‘n krities bedreigde spesie beskou. Daar is tans slegs ‘n duisend broeipare. Die kuiken verlaat eers die nes as hy drie jaar oud is en is eers op agtjarige ouderdom ten volle ontwikkel met die rooi en geel gesig.
Die Witpeerboom is ‘n baie skaars boomsoort en kom aan die Ooskus tot in die Wes-Kaap voor. Daarom is hulle wel in die Tuinroete te sien, aangesien hulle tipies in woude voorkom. Dit is vinnig groeiende bome wat heerlike skadu gee. Hulle kan tot 4m hoog word afhangende van die snoeiproses. Hulle is ideale tuinbome. In woude kan hulle tot 25m hoog groei. Hulle het lang stamme wat goed gestut is in vlak grondoppervlaktes. Daar is wit horisontale lyne aan die onderkant van die stam en oranje lyne hoër op aan die stam. Die bome het ronde blare waarvan die bokant heldergroen is en die onderkant baie vaal. Die blare het medisinale waarde. Die bome dra in die somer gegeurde blomme en vrugte wat nie mors nie. Voëltjies is baie lief vir hierdie vrugte, maar is giftig vir slange om te eet. Die Witpeerboom se hout is ideaal vir die maak van meubels.
‘n Algemener boomsoort is die Bergkaree, ook bekend as die Rooikaree. Hierdie bome kom veral in die Karoo en die Bosveld voor. Hulle is 7m hoog en 7m wyd. Hulle kan wel kleiner gesnoei word. Dit is enkelstambome, maar die stam kan soms in klomp stamme vertak. Die stam is grof en krummelrig. Die blare is lank en smal. Elke blaar verdeel in 3 dele. Die bome dra klosse wit en geel blomme vanaf Junie tot September en dra ook vanaf September tot Januarie harde vrugte . Die Bergkareeboom se hout is baie hard en was daarom baie geskik om vroeër jare waens van te maak.
Miemie De Lange en Lynne McEwan
Lekker eetgoed
Mooi tafel versierings
Lynne McEwan, Karen Nell en Carin Conradie
Leave A Comment