Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 29 November 2023

 Aberdeen VLV is deur Aalwynhof Ouetehuis uitgenooi vir ‘n bederfoggend.  Wat ‘n spesiale dag van geseënde samesyn!

‘n Komitee bestaande uit inwoners reël die spesiale oggend.  VLV lede word gul ontvang met ‘n handgemaakte roosruiker van servette wat vir elkeen aangesteek word.

‘n Feestelike versierde tafel verwelkom gaste na binne en die program skop af met Diane Nel, ACVV Voorsitter, wat almal welkom heet.  Inwoner Albert Love bedank die VLV dames hartlik vir die verjaarsdaggeskenke wat elke inwoner deur die jaar ontvang.

Padgie Pienaar, eregas vir die dag, word aan die woord gestel.  Sy was al die jare ‘n aktiewe lid van VLV en ACVV en deel bietjie geskiedenis.  Sy vertel dat Aalwynhof se ontstaan te danke is aan VLV dames wat die behoefte raakgesien en tot uitvoer gebring het.  Sy sluit af deur die personeel, matrone, bestuurder en voorsitter van Aalwynhof te bedank vir hulle harde werk wat in soveel liefde gedoen word.  Daarna verduidelik Gina de Beer hoe Aalwynhof sy naam gekry het en die betekenis daarvan – aalwyne is eie aan die Aberdeen distrik en alhoewel die ou blare onder dood is, blom dit helder oranje bo.  Dit wys dal selfs in die ouderdom mens nog kan blom.

Diane Nel deel haar ervarings tydens haar kankerstryd, waarbinne sy steeds is.  Dis ‘n tyd van beproewing, uitdaging en aanpassings, maar dis belangrik om te fokus op die mooi. Jy voel die Here se genade en bystand in alles.  By die onkologie afdeling is almal ondersteundend en vriendelik met mekaar – dis ‘n reis met ‘n splinternuwe familie.  Vind ‘n doel om voor te leef en sien uit na elke dag.

Lea van der Vyver, VLV Voorsitter, bedank almal vir die spesiale oggend van seën waarmee ons bederf word.  Die oggend bevestig net weer – ons het almal mekaar nodig.  Gee om vir mense om jou en reik uit in liefde.  As ‘n klein verrassing gee VLV aan elke inwoner en werker ‘n kersklapper, gevul met tuisgebakte koekies.

Die oggend word afgesluit met heerlike geselsies om die tafel terwyl daar gesmul word aan die lekkernye wat inwoners voorberei het.  Daar is ook stalletjies waar inwoners se handewerk te koop aangebied is.

Almal het die oggend terdeë geniet en met vol harte huiswaarts gekeer.

 

 

 

 

Roos ruikers van servette, gemaak deur Padgie Pienaar.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Truida Maarman steek Carina Esterhuizen se ruiker aan

 

 

 

 

 

 

 

 

Antje Schulz verwelkom Lucille van der Merwe met Suzanne Lategan se ruiker reeds aangesteek

 

 

 

Pragtige versierde tafel met heerlike eetgoed waar gesellig saamgekuier word.

André Viljoen by sy skilderye wat hy nou links skilder nadat hy sy regterarm verloor het.

 

 

 

 

 

Lize de Jager by haar ma, Gina de Beer, wat klavier gespeel het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Breiwerk te koop.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Versierde blikke en skilderye te koop