Sirkel: Overberg

Tak: Bredasdorp

Beriggewer: Letty-Ann Möller

Datum: 20 November 2023

Bredasdorp: 2023 ‘n Jaar van Verandering

2023 se Bestuurslede van VLV Bredasdorptak]

Hierdie afgelope jaar was voorwaar ‘n jaar van verandering. Alle trofees is uitgedeel eers nadat ons tak dit laat graveer het. By elke byeenkoms is die vraag gevra, “Wie bring jy saam vergadering toe?” Privaat tees is gehou om jong vroue aan die VLV bekend te stel en terwyl ek hierdie berig skryf, het ons ledetal, ongeag natuurlike atrisie, sedert Januarie 2023 van 37 na 50 toegeneem.

’n Rekordgetal artikels en toegewyde takbeoordelaars het vanjaar ‘n ekstra kongresbeker Bredasdorp toe gebring.  Annette van Eeden verteenwoordig ons tak op sirkelvlak (Sirkelsameroeper:Landbou) en Letty-Ann Möller, takvoorsitter, hanteer die media (Suidernuus,Huis en Haard vlv.co.za, VLV Bredasdorp se facebook én Radio Overberg fm). Ons finansiële groei kan toegeskryf word aan ‘n oopkop tesourier en ‘n opportunistiese voorsitter.

Iets waarvoor ons baie dankbaar is, is die aktiewe deelname in ons tak se werkwinkels en takkompetisies. Die amiguruni- groep neem selfs met ywer deel aan die gebak, waaroor Charlene le Roux by elke takvergadering deeglik terugvoer gee.  Hiermee handel ons die gebottel en gebak artikels maandeliks af.

So tussen die beanies en die bedsokkies, die artikels, die geskenkstrikkies en –papier maak deur, bou ons ‘n hegte emosionele band en hou ons ons tak in stand.
Maar ons hoogtepunt vanjaar was by uitstek die suksesvolle uitbreiding van ons tak (38% groei) en die groot sukses met ons enigste fondsinsameling, ons wynveiling by ons Sop en Soetes aandfunksie waar daar ‘n oormaat gaste was.

Lede en gaste by die kersafsluiting.  Die tema was ‘Red Hats’.
Die vorige én nuwe bestuur inspireer almal om dinamies te wees.  Ons kan met dankbaarheid terugkyk op 2023 en sien met groot verwagting uit na ons volgende groot okkasie volgens die Griekse tradisie…die breek van ‘n bord (of twee óf meer) om ons 50-tal te vier.

Breek ‘n bord uit pure uitbundigheid!