Sirkel: Paarl

Tak: Malmesbury

Studierigting: Landbou & Tuinbou / Leefstyl

Beriggewer: Mia Louw

Datum: 18 Oktober 2023

Ons besoek Deli-Co Farmstyle Family Butchery buite Riebeek.

Ons word genooi na Deli-Co se raadsaal op die 3de verdieping van die kantoorblok. Pieter Truter, mede-eienaar, vertel vir ons meer van die ontstaan, groei en huidige bedrywighede van Deli-Co. Deli-Co fokus op die verwerking van skaapvleis, vanaf hul eie voerkraal, slag, verwerking en verpakking. 60 ton vleis word daagliks verwerk en dis die enigste verskaffer waar jy 1500 skaapboude kan bestel vir onmiddelike aflewering met hulle eie lorries, landwyd. Hulle koop ook beesvleis en varkvleis in, net die snitte wat hulle benodig. Tot en met 700 afvalle word daagliks met die hand skoongemaak. Alles word gebruik, niks word vermors nie, en selfs die bloed en ander afval word gekomposteer.

Daarna trek ons wit jassies, skoen- en haar beskerming aan. Ons word geneem vir ‘n toer deur die fasilieit. Geen foto’s toegelaat.

Ons beweeg deur verskillende koelkamers, groot genoeg vir 6 lae van pallette gepak, wat deur vurkhysers rondgeskuif word. Die hele fabriek is verdeel in ‘n halaal afdeling en die ander helfte nie-halaal. Die een koelkamer was minus 25 grade Celsius, ons het omtrent gebibber. Een koelkamer se rakke kan met die druk van ‘n knoppie skuif om plek te maak vir ‘n vurkhyser, en skuif dan self weer eweredig uitmekaar vir maksimale lugvloei.

Ons het gesien waar vleis verwerk word, die verrskillende masjinerie wat gebruik word vir maal van bv die spaghetti maalvleis, afweeg, vervoerbande, spore vir heel karkasse en selfs karkasse met ‘n materiaal kous oor vir uitvoer na die midde-ooste. Op een lyn maak hulle hul eie plastiek vleisbakkies.

Nadat ons tone en hande ordentlik gevries is, was dit tyd vir iets te eet en drink. Ons geniet die heerlikste steak/hoender en slaai broodjies, heerlike drinkgoed in Deli-Co se bistro. Almal ondersteun die pragtige winkel en koop die heerlikste vleis en ander kosprodukte.

Deli-Co bly steeds getrou om hul kleiner kliënte te diens, want dit is waar alles begin het. Soos hulle slagspreek sê: “Van ons familie na joune”

Dankie Deli-Co vir ‘n onvergeetlike ervaring.

www.delico.co.za

Besoek aan Deli-Co.

Pieter Truter, mede-eienaar van Deli-Co saam met Mia Louw, Malmesbury VLV Voorsitter.