Sirkel Worcester
Tak: VLV Ceres
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Louwna Hoving
Datum: 10 Oktober 2023
DIE TOTALE VROU-WEES IN ‘N NEUTEDOP
Sy sien om na haarself deur persoonlike versorging, innerlik en uiterlik, bewonder die natuur deur tuinverfraaiing, leef haar talente uit deur handvaardig te wees en kunste te geniet en is besorg oor landsake en geestelike en morele verval van die land en sy mense.
Rietha Winterbach gebruik Petro Kotze, ‘n lid uit die gehoor om grimering en haarstilering te demonstreer en gee wenke. Kies die haarstyl waarmee jy gemaklik voel; besluit self wanneer jy wil grys gaan en doen dit deur jou hare kort te knip, of highlights te laat in sit, of as jy dalk ‘n ruk weg is uit jou omgewing. Om hare bietjie volume te gee, spuit dit met haarsproei, tease effe en lig dit op met die vingers.
Rietha Winterbach en Petro Kotze
Vir ‘n vinnige grimering benodig jy vyf produkte: onderlaag wat by jou velkleur pas en natuurlik lyk – poeier- of vloeistofvorm en moet van bo tot onder oor die hele gesig dieselfde kleur hê. ‘n Wenkbroupotlood beklemtoon die oë, Blusher word gebruik om die wangbene te beklemtoon, afhangende watter tipe gesig grimeer word. Maskara met latex is veilig omdat dit vinnig droog word en maklik afvee met ‘n warm lappie. Lipstiffie verrig wonders as jy nie goed voel nie. Plooie gee sagtheid aan die gesig as jy ouer word. As jy nooit lag nie, sal jy nooit plooie kry nie!
Yolande van der Merwe en Rita Gresse
Yolande van der Merwe en Rita Gresse modelleer en verduidelik modeneigings. Hoe jy aantrek bepaal jou gemoed. Dra waarmee jy gemaklik voel. Vergeet van diëte, jou gene bepaal grootliks hoe jy lyk. Eet gebalanseerd en gesond. Los die nuutste modeneigings vir die jongeres. Skaf net een of twee hoogmode artikels aan – soos byvoorbeeld oorbelle of skoene, want dit is net vir een jaar in die mode. Hou jou klerekas eenvoudig, tensy jou persoonlikheid dit anders vra! Wat het jy nodig in jou kas?: ‘n Netjiese getaileerde broek. Swart, wit, roomkleur of kaneel is altyd in die mode. ‘n Netjiese sy of natuurlike katoen of linne bloes of hemp daarby. Kort heupbaadjies, dieselfde kleur baadjie met sjiek serpies of pashminas. Skoene na gelang van die lengte van die broek of romp of geleentheid. Formele plat hofskoen met gespe of goue werk op lippie is baie geskik. Handsakke is klein, allerhande kleure, asook bamboes en hekelsakkies. Dit rond die uitrusting af. Selfs die band van die handsak kan wissel vir verandering en die belt wat in die broek gedra word. Donkerbrille word volgens smaak en persoonlikheid gedra. Juwele – groot, bonkig, maar klein en fyn oorbelletjies is ook baie gewild. Pêrels bly altyd gewild. Dra juwele wat by jou persoonlikheid pas. Dra klere wat by jou bou pas. Jou lengte en breedte bepaal die snit wat jy moet dra; Breë skouers – halternekke; Smal skouers – bootnekke of vierkantig met langer skouerstuk en moue; Klein borste en breë heupe – maak eintlik nie meer saak wat jy dra nie; Groot borste en smal heupe – netjiese regaf pype met lang bloes, skuins gesny. Kleure: helder en bont met skoene en toebehore in agtergrond kleur. Anything goes, solank jy net blom. Hoede ‘n moet vir warm somerson. Dit moet by jou voorkoms en uitrusting pas. Sweedse raat vir ouer vrouens: Omhels jou vrouwees, aanvaar jou lyf en wees 100% jouself, maar versorg altyd jou hare.
Om fondse te bekom vir die tak word ‘n gehekelde kombers uitgeloot, asook ‘n tuinetoer op 20 Oktober waar vyf tuine besoek gaan word.
Tuintoerkaartjie
Lenie Viljoen
Lenie Viljoen trakteer lede met Liefdesliedjies op die klawerbord.
Susan Blomerus verwys na innerlike skoonheid en wat binne in ons versteek is.
Susan Blomerus
Die mens is volmaak as God se verteenwoordigers geskape met binneprentjies wat uit Liefde, Posisie en Waardes (LPW) bestaan, maar na die sondeval het die binneprentjies van Bang, Skuldig en Nikswerd (BSN) bygekom. Sy verwys na die geskiedenis van Josef en sy broers in die Bybel en verduidelik hoe hulle binneprentjies hul optrede bepaal het. Ware LPW kom van God en dis genade om dit te ontvang, maar dis ons vrye wil of ons dit wil aanvaar. BSN kom egter van die mens en dit maak van jou ‘n vyand van jouself. Jou gedrag versteek jou binneprentjie-optrede. Die BSN prentjie ketting jou vas – dis soos oorlog wat woed. Die LPW is ‘n beter prentjie en gefokus op jou eindbestemming en jy is op ‘n veilige bootreis na jou bestemming. Jy is in beheer van die boot en dis jou keuse om ander saam te nooi op die reis, maar jou optrede sal bepaal of hulle dit sal aanvaar. As jy Liefde het, kan jy liefde gee en is in die Posisie waar jy vry van alles is omdat jy jouself aanvaar en dit gee jou die Waarde om ‘n verskil te maak. Wat is aan jou binnekant – glo jy dat jy LPW het of is jy die slaaf van BSN? Die oplossing: Gaan na jou Skepper en gee jou geskenk aan na jou kinders en kleinkinders. Dit is ‘n geskenk wat jy ontvang het en wat jy moet uitleef – The gift that keeps on giving.
Vera Alberts
Vera Alberts deel haar bekommernis oor ons pragtige land wat soveel donkerte van armoede, geweld, misdaad en natuurrampe ervaar. Sy steek ‘n kers aan vir hulle wat swaarkry en vra voorbidding vir diegene en versoek dat lede ook ‘n kers by hul huise aansteek en sal help om lig te bring in hierdie omstandighede deur ons hulp aan te bied waar nodig.
Leave A Comment