Sirkel: Tygerberg
Tak: Parow
Portefuelje: Gesondheid & Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Lize Testa
Datum: 5 Oktober 2023
In Suid-Afrika het ons geensins ‘n tekort aan formidabele vrouens nie!
Gladys Evans is een van die dames wat definitief ‘n spesiale plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenisboeke behoort te hê. Sy het haar sig op die ouderdom van 30 begin verloor en kort daarna ‘n gidshond by die Gidshondvereniging vir Blindes in Engeland gekry. Na haar 6 weke opleiding by Leamington Spa, is sy en haar gidshond, Sheena, met die Carnavon Castle skip, terug na Suid-Afrika, reg om ‘n nuwe avontuur aan te pak!
In Januarie 1954, is die Gidshondvereniging van SA amptelik gestig deur Gladys Evans. En ‘n maklike pad was dit glad nie! Suid-Afrikaners was op daardie stadium nog glad nie bekend met gidshonde nie. Sy moes byvoorbeeld spesiale toestemming kry om Sheena saam haar op ‘n bus in Johannesburg te neem. Van die voorwaardes het onder andere ingesluit dat sy derde party versekering moes kry vir ingeval Sheena dalk iemand byt en ‘n toetsrit op die bus moes meemaak om te kyk of Sheena haar wel gedra tydens die rit.
Gladys is op 3 Junie 2001, na ‘n kort siekbed, op die ouderdom van 82 jaar oorlede. Sy was vir 38 jaar lank betrokke by die vereniging.
Op Donderdag, 5 Oktober 2023, het Jackie Qual, bemarkingsbestuurder by die Kaapstadse tak, en Megan Reid, gidshondafrigter, die VLV Parow se lede meer kom vertel van die Gidshondvereniging van Suid-Afrika. Hulle is vergesel deur Sid, die tak se gelukbringer, en Goldy, ‘n gidshond in opleiding.
Tot in die 1970’s het die vereniging slegs gefokus op gidshonde vir mense met verswakte of geen sig. Daarna is die Kollege van Oriëntasie en Beweeglikheid gestig. Hier word gefokus om mense met visuele uitdagings te help om onafhanklik te funksioneer. Hulle word geleer om met ‘n stok te stap (sonder ‘n hond), hoe om self ‘n koppie tee te maak en na hulself om te sien. Nie almal kan of wil ‘n gidshond hê nie. Behalwe dat mense soms skrikkerig is vir honde, is daar ook veearts onkostes en ‘n spesiale dieët vir die hond om in ag te neem.
In 1990 het die vereniging ook begin om ondersteuningshonde op te lei vir mense met ander fisiese gestremdhede en outisme.
Die vereniging teel self hulle honde en is internasionaal geakkrediteer. Deur middel van kunsmatige inseminasie word daar seker gemaak dat ‘n wye verskeidenheid gene gebruik word om siektes soos heupprobleme te voorkom. Hulle teel hoofsaaklik Labradors, Golden Retrievers en Duitse Herdershonde.
Die honde word grootgemaak deur “Puppy Raisers” van die ouderdom van 8 weke tot 14 maande. Die “Puppy Raisers” is lede van die publiek wat help om seker te maak die hondjies word van kleins af bekend gestel aan mense, ander diere, harde geluide en publieke areas. Hulle gaan basies oral saam met hulle tydelike eienaars. Gedurende die tydperk woon hulle ook een keer ‘n week klasse by. Die vereniging dek alle kos en veearts onkostes terwyl hulle by die “Puppy Raiser” woon. Daar is ook egter ‘n paar reëls waarby gehou moet word terwyl die hondjies groot word. Hulle moet ‘n baie streng dieët volg, mag nie oorgewig raak nie, en mag nie op die meubels en beddens klim nie.
Hierna gaan hulle “skool” toe. Klastye is van 08h00 tot 16h00 elke dag. Hier leer hulle om gewoond te raak aan die harnas wat hulle moet dra, hoe om veilig van punt A na punt B te gaan en om om struikelblokke te beweeg. Hulle leer ook hoe om ‘n verkeerslig te vind en met hulle neuse op die knoppie by die verkeerslig te druk, sodat dat hulle eienaar die knoppie maklik kan kry. Hulle word ook bewus gemaak van hoe om hoogte te skat.
Opleiding is gebaseer op ‘n vergoedingbasis en gaan gepaard met baie belonings (bederfies) vir goeie gedrag.
Sodra hulle gereed is om ‘n regte gidshond te wees, word daar hard gewerk om die regte hond by die regte eienaar te kry. Daar is tans ‘n waglys van so lank as twee jaar. Die vereniging werk nie op ‘n eerste kom, eerste kry basis nie, maar eerder om die ideale pasmaats by mekaar uit te kry. Onderhoude word gevoer, daar word gekyk na hoekom die persoon ‘n gidshond soek, hoe styf die persoon die harnas vashou, die persoon se stappas, of die persoon publieke of privaat vervoer gebruik, en nog baie ander! Party eienaars verkies ‘n hond wat soene uitdeel, terwyl ander gril. Party honde is skrikkerig vir roltrappe en hysbakke. Sodra als in ag geneem is, begin die volgende opleidingsessie!
Vir 2 weke woon die persoon by die sentrum in, leer ken die hond en werk saam met die afrigter. Daarna word daar vir 2 weke by die nuwe eienaar se huis gewerk. Die hond leer ken roetes wat sy eienaar gereeld gaan gebruik soos werk toe, na ‘n winkelsentrum of ‘n kerk toe. Eienaars word steeds aangemoedig om seker te maak dat hulle self ook die roete goed ken, aangesien die hond se eintlike werk is om hulle om struikelblokke te lei.
Gidshonde werk vir ongeveer 8 jaar, waarna die eienaar die opsie het om die hond te hou en by hom of haar te laat “aftree”. Indien dit nie moontlik is nie, word die “Puppy Raiser” gekontak en dieselfde opsie aangebied, indien dit nie moontlik is nie, kan die hond deur ‘n lid van die publiek aangeneem word.
Gidshonde dra blou jassies, terwyl ondersteuningshonde rooi jassies dra.
Ondersteuningshonde vir kinders en mense met outisme word opgelei om ‘n metgesel te wees. Honde vir jonger kinders word ook geleer om plat te gaan lê wanneer ‘n kind wil weghardloop. Hierdie honde word aan die kind vasgemaak deur middel van ‘n band om die kind se lyf.
Hulle help ook die kind om meer sosiaal te verkeer sonder om noodwendig eerste kontak te maak. Wanneer mense die hond bewonder en wil vryf, kry die kind ook die geleentheid om met die mense te gesels indien hy of sy daarvoor kans sien. Kinders leer ook verantwoordelikheid deur na die hond om te sien.
Opleiding vir ondersteuningshonde duur ongeveer 6 tot 8 maande.
Die Gidshondvereniging ontvang geen fondse van die staat vir die opleiding van honde nie, maar wel ‘n bedrag van R3500 per persoon vir die Oriëntasie en Beweeglikheids opleiding. Om een gidshond op te lei, kan tot soveel as R300 000 beloop.
Om ‘n gidshondafrigter te word, moet jy ‘n 3 jaar kursus voltooi. Gedurende die kursus leer die afrigter hoe om die honde op te lei, asook hoe om met die hond se eienaar te werk.
Indien jy meer van die Gidshondvereniging van Suid-Afrika wil weet, hulle wil ondersteun of by hulle betrokke wil raak, besoek gerus hulle webwerf by https://guidedog.org.za/
Leave A Comment