Sirkel: Tygerberg
Tak: Kuilsrivier
Studierigting: Gesondheid
Beriggewer: Mariëtte Krige
Datum: 4 Oktober 2023
Baie metodes om te oefen.
Sonder veel moeite het Karla Verwey op Woensdag, 4 Oktober 2023, die dames van Kuilsrivier se aandag behou met die eenvoudige, dog doeltreffende oefeninge wat sy demonstreer het. Nie een lid teenwoordig kon sê dat dit daar nie iets is wat sy kan doen nie. Selfs sit en TV kyk is die regte tyd vir ‘n oefening of twee.
Karla het net met ‘n gewone stoel, soos ‘n eetkamer- of kombuisstoel, aan die lede gewys hoe maklik dit is om spiere soepel te hou en seker te maak bene, spiere en balans sonder moeite so reg as moontlik gehou kan word, om val en seerkry te minimaliseer.
Die lede het almal ‘n pink strikkie gekry met aankoms, net om ons te herinner dat ons mooi na ons self moet kyk, maar ook seker maak ons vriendinne en familie moet herinner word om na hulle self te kyk. Pamflette is ook uitgedeel.
Soos met elke ander vergadering was daar ‘n lekker partytjietema, ons het so bietjie “Down Memory Lane” gestap met lekker musiek uit lang jare terug en ‘n paar items wat uit vervloeë se dae goeie herinneringe opgetower het.
Daar was nog ‘n verrassing, ‘n spesiale aflewering vir die voorsitter, Elmine Möller, wat vroeër verjaar het. Uber vervoer nie net mense nie, pakkies met blomme en eetgoed ook! Dan is die voorsitter ook nog toegerus vir alles en nog wat. Sy wen toe die lootjie vir die persoon met ‘n botteloopmaker in haar handsak.
‘n Baie lekker vergadering. Met die makliker manier van oefen in gedagte, opgewonde lede wat lekker kuier en gaste wat saam gesels, het die lede die vergadering oor ‘n lekker koppie tee of koffie met ietsie lekker te eet, afgesluit.
Leave A Comment