Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur en Openbare Sake
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 21 September 2023
VLV Voëlvlei besoek ‘n kultuurskat van George
Op hul jaarlikse uitstappie het die lede van VLV Voëlvlei hul formele program vir die jaar voltooi met ‘n uitstappie na die ou Tolhuis in die Montagupas.
Vir die persone wat die eerste keer daar gekom het, sowel as dié wat voorheen daar was, was die besoek een groot verrassing. Hulle kon nie juis besluit wat die grootste ‘skat’ was nie – die geboue met hul inhoud of die formidabele Gerda Stols!
Dit was Gerda se inisiatief en onder haar leiding dat die Tolhuis in sy oorspronklike vorm gerestoureer is. Deur die harde werk en bydraes van vrywilligers uit die gemeenskap van George, is dít wat van die Tolhuis oorgebly het toe die werk begin is, weer herstel. Dit was in ‘n vervalle toestand nadat vandale feitlik alles afgebreek het.
Gerda is ‘n wandelende ensiklopedie wat betref die geskiedenis van die Tolhuis. Dit was gebou vir die tolmeester en sy gesin om in te woon nadat die Montagupas voltooi is. Hy moes die tolgeld invorder van die waens wat daarlangs oor die berg moes gaan. Verder moes hy ook toesien dat die pas in goeie toestand bly.
In 2018 is die hele Tolhuis met inhoud en al vernietig in ‘n veldbrand. En wéér het Gerda en vrywilligers ingespring om dit te herstel. As in ag geneem word dat hulle geen inkomste gehad het nie, is die bydraes van goedgesinde besighede en individue aangewend daarvoor. Vandag is dit ‘n museum, gevul met die interessantste artikels uit vervloeë dae. Dit is ‘n gewilde toeristebestemming.
Die VLV-lede is getrakteer op pannekoek en koffie en daar is slegs ‘n donasie daarvoor gevra. Gewoonlik ken mense uit ‘n omgewing baie monumente, museums, katedrale en so meer van ander lande of stede, terwyl sulke groot kultuurskatte soos die Tolhuis, (en Gerda met haar ongelooflike aanbieding van kennis en haar musiek!) op hul agterstoepe is.
VLV Voëlvlei se lede sal vir seker van nou af behoorlike ambassadeurs wees vir die Ou Tolhuis van George!
Gerda Stols van Motagu Tolhuis
Lede van Voëlvlei luister na al die inligting Lede van Voëlvlei geniet pannekoek en “spoorwegkoffie”
KOS IN ‘N KOUS? VLV VOËLVLEI VIND UIT
Gedurende hul afgelope besoek aan George, het die lede van VLV Voëlvlei die fabriek van FOODSOCK besoek.
Met die instap is die besoekers begroet deur die heerlikste speserygeure. Carl van Blerk het hulle ingewag en hartlik welkom geheet.
FOODSOCK is ‘n breinkind van Carl, ‘n oud-onderwyser. Hy het gedurende die COVID-tyd betrokke geraak by sopkombuise en verskaffing van voedsel aan behoeftiges. Die idee van die FOODSOCK het begin toe hy besef het dat dit nie altyd moontlik is om almal oral te voed met vars produkte nie. Hy het, in samewerking met oorlede Francois Ferreira, ‘n bekende sjef, begin eksperimenteer met droë produkte wat al die nodige voedingstowwe bevat. Sy doel was om genoeg gesonde droë produkte in die sakkie te plaas sodat ‘n gesin van vier ‘n groot genoeg, gesonde maaltyd kan geniet teen die baie bekostigbare prys van R45-00.
Die ‘sokkie’ bevat pasta of rys, gedroogde groente, peulgroente en bone, speserye, soja, kruie en soppoeiers om elke gereg sy eie smaak te gee. Die kos is halaal en vegetaries. Dit is bedoel vir alle mense – studente, armes, rykes, ouer persone, die regering, kampeerders, kerke, liefdadigheidsorganisasies, enkellopendes, gesinne ….. die lys gaan aan!
Carl het ‘n klein fabriek begin in samewerking met die George munisipaliteit en die besigheid het al so uitgebrei dat daar nou ‘n groot fabriek in Somerset-Wes is, sowel as een in Kwazulu-Natal. Die FOODSOCKS word reeds oral in die land versprei. Hulle beplan nog meer fabrieke, want die aanvraag is so groot dat hulle selfs navraag gekry het van oorsese lande wat dit wil invoer.
Die VLV-lede kon aan die heerlike spaghetti bolognaise proe en dit het by almal byval gevind. Baie van hulle is met armsvol pakkies daar weg. Die raklewe van die ‘sokkies’ is ses maande, maar geen van dié wat die dames daar weg het, sal naastenby ‘n kans hê om so lank op ‘n rak te bly lê nie.
Carl van Blerk verduidelik vir die dames van hulle produkte. Die advertensie van Foodsocks wat op TV verskyn het
Hierdie Kos in ‘n Kous is ‘n uitstekende idee. Die progeam op TV gesien en ek gee net ‘n handeklap vir daai manne. Dankie vir die deel