Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Damesoggend Vir Huishulpe
Beriggewer: Theresa Troskie
Datum: 14 September 2023
7 de Damesoggend vir Huishulpe
Op 14 September was dit weer tyd vir ons jaarlikse bederfdag vir ons huishulpe. 40 dames het opgedaag en 9 lede was teenwoordig. Die voorsitter, Renée Swanepoel, het afgeskop met ’n gepaste opening en verwelkoming. Sy stel die dames bekend aan die geskiedenis en doel van VLV, nl. Volwasse opvoeding.
Sassa Toelaes: Renée verduidelik waar die staat se geld vandaan kom. Almal betaal belasting of BTW. Almal wat ’n vaste werk het, betaal Inkomstebelasting. Dienste wat op Murraysburg vir inwoners beskikbaar is, bv. die hospitaal, die SAPD, Opvoeding (skole), ens. word dus befonds met ons elkeen se geld. Indien ons sien dat daar vandalisme van staatseiendom of vermorsing van staatsgeld plaasvind, is dit so goed asof ons eie geld of eiendom vermors of beskadig word! Dit is onaanvaarbaar! Dit is ons plig om dit aan te meld. Misdrywe kan anoniem gerapporteer word.
“Die vrou/ma kaptein van haar huis en gesin.”
Theresa Troskie vertoon foto’s en vertel van Ernest Shackleton, die Suidpool ontdekkingsreisiger, se skip die Endurance. Die Endurance het 107 jaar gelede by die suidpool gesink en is verlede jaar eers weer ontdek. As gevolg van Shackleton se sterk leierskap en goeie besluite was al 27 bemanningslede na omtrent 450 dae op die suidpool weer veilig terug in Engeland! Hulle het oorleef in die uiterste koue, vreeslike ontberings belewe, verskriklike omstandighede en dikwels sonder kos.
Theresa trek ’n parallel tussen ’n ma en Shackleton as leier. Ma’s is dikwels die stuurman/kaptein van ’n huis of gesin. Endurance beteken uithouvermoë, maar dit beteken ook om baie en moeilike dinge te kan verduur. Elke vrou en ma moet soms baie moeilike dinge verduur. Gelukkig is ons as vroue met die leierseienskappe gebore om ’n huishouding te kan lei en bestuur asook om kinders groot te maak. Ons huis met al sy mense is ons boot en meestal is ons die kaptein van daardie boot, net soos Shackleton die kaptein van die Endurance was en die hele bemanning van die boot gelei en bestuur het in verskriklik moeilike omstandighede.
Wat maak ’n mens met ’n stout kind? ’n Ma vat daardie kind onder haar vlerk, sy koester hom en sy gee liefde, sy bestuur hom en sy lei hom sonder dat hy dit eers agterkom! Ons ma’s is mos slim! Ons weet mos dat as almal ’n kind net altyd slegsê en raas gee, dan dink die kind later hy is net sleg en treurig, want almal om hom dink dan so, maar as sy ma dink daar steek goeie dinge in hom, dan gaan hy dalk begin twyfel en dan gaan hy dalk so begin optree dat hy sy ma ook gelukkig kan maak! As ’n kind dink almal verwag net die slegste van hom, dan is dit presies wat hy gaan word. Hy moet weet, sy ma/ouers verwag beter van hom en sy/hulle glo in hom en sy ma/pa moet hom lei om vorentoe te beweeg net soos die bemanning in die reddingsbootjie!
Net soos kaptein Shackleton, die leier van die bemanning die manne laat glo het dat dit moontlik is om sukses te bereik, net so is dit elke vrou en ma se plig om ons huismense te laat glo, dat niks onmoontlik is nie en dat ons met vasberadenheid, deursettingsvermoë en bereidheid om soms baie te verduur, daar tog sukses op ons elkeen wag, want dit hang van jouself en jou keuses af wat van jou gaan word.
LES: NIKS is onmoontlik nie, GEEN omstandighede is so sleg dat ek nie daaruit kan loskom nie.
Gebaretaal, ons 12de amptelike taal:
Hannelize van Heerden verduidelik dat Gebaretaal nou ons 12de amptelike taal is. Sy maan die vroue om oplettend te wees teenoor gehoorgestremdes en dat dit goed is om iets van Gebaretaal te leer. Sy leer die gehoor om ’n paar sinne in gebaretaal te sê. Almal doen hartlik mee!
Speel-speel van ashoop na …
Helen Botha en haar huishulp het die oulikste speelgoed uit afval gemaak en uitgestal. Sy gee raad en wenke om kinders konstruktief besig te hou. Speel-speel leer ons om:
- Te lees, te skryf en korrek te spel
- Goeie wiskundige vaardighede
- Selfvertroue en maklik maats maak (sosialiseer)
- Probleme op te los en kreatief te kan dink
- Onafhanklik te wees
- Deelname aan sport, musiek, kuns, ens.
Spel is die belangrikste aktiwiteit vir ’n kind wat hom/haar in staat stel om alles te leer in die eerste paar jaar van hul lewens.
Helen verduidelik aan die mammas dat daar verskillende tipes spel is en hoe elkeen ’n belangrike deel van kinders se grootword uitmaak: fantasiespel, fisiese spel, gestruktureerde speletjies met reëls en konstruksie spel.
Food Sock:
Lynzelle van der Merwe stel Food Sock maaltye aan die dames voor. Hierdie maaltye het net voordele. Dit is goedkoop, heerlik en voedsaam. Dit bevat ook soja wat byvoorbeeld help met gemoedskommelings tydens menopouse! Dit is ook energie-doeltreffend, want dit word vinnig in ’n pot gaargemaak. Daar is 8 verskillende maaltye beskikbaar. Lynzelle het ’n verskeidenheid voorberei en die dames kry elkeen ’n bakkie vol om te proe.
Leave A Comment