Sirkel Worcester
Tak: Ceres
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Louwna Hoving
Datum: 11 September 2023
VLV Ceres sit sprankel in Ekonomie
Om ‘n entrepreneur te wees is ‘n interessante maar beslis nie altyd ‘n maklike taak nie. Mathilda Hendricks, eienaar van Homegrown, ‘n restaurant/koffiewinkel, gee die tak ‘n kykie in die lewe van ‘n entrepreneur.
Sy het haar bekwaam met ‘n BSc-graad en ook later begin navorsing doen vir haar doktors-graad, maar het nie regtig geweet wat sy wil doen nie. Nadat sy klaar studeer het, het sy as ‘n Bemarkingsbestuurder begin werk, maar heeltyd geweet dat dit nie is wat sy regtig wil doen nie, hoewel sy verseker was dat haar belangstelling in voeding lê. Sy het nadat haar man ‘n gimnasium geopen het vir hom met administratiewe take gehelp en toe besef dat daar ‘n behoefte is aan ‘n plek waar ouers kan wag vir hulle kinders of sommer net ontspan terwyl hulle met buitemuurse aktiwiteite besig is of waar ouers rustig met hulle kinders kan ontspan. Sy het dus begin met ‘n koffiewinkel waar sy koeke en brood bak en kos voorberei. Sy is self by alles betrokke, hoewel sy gebruik maak van ‘n klein permanente personeel wat met tydelike personeel afgelos word.
‘n Eie besigheid hou baie uitdagings in en slaag nie altyd nie. Daar moet altyd voorraad beskikbaar wees, hoewel jy nie regtig kan beplan hoeveel nie, omdat die aantal besoekers aan die winkel/restaurant daagliks verskil. Covid het ook sy tol geëis. Gedurende die grendeltyd was dit moeilik toe niemand kon werk nie en toe dit later weer oopgemaak het, moes almal met maskers werk en kuier. Dit het fyn beplanning gekos om oorhoofse kostes laag te hou en nie personeel af te dank nie.
Sy doen ook opheffingswerk. So het sy ‘n swart vrou wat in haar diens is en niks van kook en bak geweet het nie, opgelei wat tans heerlike en mooi bagels bak. Dis ook haar taak om die personeel gelukkig te hou. Sy poog om vir haar kliënte ‘n gesellige en veilige kuierplek te skep en dit ‘n kindervriendelike restaurant te maak. Sy hou van uitdagings en beklee tans ‘n nie-permanente pos by ‘n groot boerderygroep. Tussen dit alles deur koester sy ‘n gesonde huweliks- en gesinslewe en ondersteun hulle mekaar.
Cobie Coetzee en Mathilda Hendricks
Cobie Coetzee het ‘n komiese satiriese skets gedoen wat die basiese beginsels van ‘n eie besigheid behels.
Ettienne Keyser (Laerskool Gericke), Hannelie van Schalkwyk (Voorsitter) en Joy van Biljon (Saamroeper Landbou en Tuinbou)
VLV Ceres skenk ‘n Witolienhoutboom aan Laerskool Gericke om op hulle terrein te plant. Joy van Biljon verduidelik ook aan die lede dat die dorp besig is met die rehabilitasie van die rivier. Al die populierbome word afgesaag omdat dit indringers is en met ander bome vervang. Daar gaan ook palmiet geplant word.
Lede woon ‘n werkswinkel by waar hulle die koffieskilderytegniek aanleer.
,
Leave A Comment