Sirkel: Kalahari
Tak: Vryburg
Studierigting: Openbare Sake
Aanbieder: Marthie Grobler
Beriggewer: Nellie Viljoen
Datum: 13 September 2023
De Clerq Matthee gesels oor die werksaamhede van Afriforum, ‘n waghond vir burgerregte wat landswyd reeds 295 000 lede het. Hul missie is om ‘n geloofwaardige organisasie vir Afrikaner-belange te wees. Hul visie is om vreedsaam met ander gemeenskappe te leef.
In Vryburg fokus Afriforum op plaaslike regering (munisipaliteit). Hulle vergader elke twee maande met die munisipale bestuurder om sake van belang te bespreek.
Gemeenskapsveiligheid: Vryburg Buurtwag was die eerste in die land en beskik oor ‘n protospan vir spesiale operasies, ‘n brandspan en gebruik ‘n hommeltuig in operasies.
Gesondheid: Die dorp se bloudruppel (kraanwater) en groendruppelstatus (riool) word gereeld gemonitor. Paramedikus is beskikbaar tydens operasies.
Gemeenskapsake: Donasies vir veevoer om boere by te staan na die verwoestende veldbrande, leë erwe word gereeld skoongemaak om misdaad en brande te voorkom.
Kultuur en toerisme: Die konsentrasiekampkerkhof in Hartbeesweg word gereld skoongemaak.
Die gemeenskap is hul oë en ore en moet betrokke wees.
Manda Schoon demonstreer hoe happies maklik en vinnig versier kan word. Alles kan versier word met eetbare blomme soos kappertjies en gesiggies.
Marthie Grobler en De Clerq Matthee
Manda Schoon en Marthie Grobler
Keurige happies
Voorskote was deel van die tak se kompetisies
Vandag se kinders weet dalk nie wat ‘n voorskoot is nie. Die hoofgebruik van Ouma se voorskoot was om die rok daaronder te beskerm, want sy het net ‘n paar gehad. Dit was ook omdat dit makliker was om voorskote te was as rokke en voorskote het minder materiaal gebruik.
Maar daarmee saam het dit as ‘n pothouer gedien om warm panne uit die oond te haal. Dit was wonderlik om kinders se trane af te droog, en is by geleentheid selfs gebruik om vuil ore skoon te maak.
Van die hoenderhok is die voorskoot gebruik om eiers, kuikens en soms half-uitgebroeide eiers te dra om in die warm oond te plaas.
As geselskap kom, was daardie voorskote ideale wegkruipplekke vir skaam kinders …
En as die weer koud was, het Ouma dit om haar arms gedraai.
Daardie groot ou voorskote het menige natgeswete voorkop afgevee, gebuig oor die warm houtstoof.
Spaanders en aansteekhout is in daardie voorskoot na die kombuis gedra.
Uit die tuin het dit allerhande groente gedra. Nadat die ertjies uitgedop is, het dit die skille gedra.
In die herfs is die voorskoot gebruik om appels in te bring wat van die bome geval het.
As onverwagte geselskap die pad opry, was dit verbasend hoeveel meubels daardie ou voorskoot binne ‘n kwessie van sekondes kon afstof.
As aandete gereed was, het Ouma op die stoep uitgestap, haar voorskoot geswaai, en die manne het geweet dis tyd om van die lande af in te kom vir ete.
Dit sal lank duur voordat iemand iets uitdink wat daardie ‘outydse voorskoot’ wat soveel doeleindes gedien het, kan vervang.
Hoeveel kieme op daardie voorskoot was, weet niemand nie. Maar wie het al ooit iets anders van ‘n voorskoot as net liefde ontvang?.
Leave A Comment