Sirkel: Tygerberg
Tak: Kuilsrivier
Studierigting: Leefstyl
Beriggewer: Mariëtte Krige
Datum: 6 September 2023
Alle soorte naalde en materiale, afgerond met ‘n braaibroodjie
Woensdag 6 September 2023 was daar nie tyd om te bekommer oor ‘n laat winter, lente wat nog nie opgedaag het of enige ander weerstories nie. Die dames van Kuilsrivier en hulle gaste het baljaar tussen mooi lappe, wolle en allerhande ander mooi artikels wat uitgestal is. Verder, ook hoe om te maak om self daardie mooi artikels te kan vervaardig (of dalk te koop by die wat dit gemaak het).
Oral was iets wat jy kon doen of probeer. Soos die pragtige weefwerk wat uitgestal is deur Elsabie Hitchcock wat almal se aandag getrek het.
Ons het begin deur eers ons oë toe te maak, dink hoe mooi babahandjies lyk, dan na ons eie hande te kyk en te sien die merke wat werk op ons hande los. Dan, ons staan onder die Hoër Hand en Hy lei en beskerm ons.
Babs van Wyk het gefokus op die punte wat belangrik is wanneer jy jou artikel maak vir die kompetisies, waarna die beoordelaars kyk en hoe jy die artikel moet aanbied wanneer jy aan die kompetisies deelneem.
Marna de Kock het vir ons meer inligting gegee oor basiese riglyne en die manier waarop jy jou naaimasjien effektief kan gebruik, waarvoor om op te let wanneer jy stik en algemene vrae beantwoord oor naaimasjiene.
Die saal is ingerig met stasies waar die verskillende kompetisies uitgestal is, sodat die dames kon sien hoe die items en patrone lyk en wat hulle te doen staan. Daar is nie net op konferensie artikels gekonsentreer nie, maar ook op beginner artikels, vir dames wat nuwe vaardighede wil aanleer. Daardie iets wat lankal op die horison huiwer en wat jy wil probeer, dis nou die tyd! By elke stasie het ‘n dame bygestaan om die nodige hulp en bystand te lewer en vrae te beantwoord.
Spog mag ons, want handwerk is spogwerk. Elkeen doen dit na haar beste vermoë en niemand anders kan presies soos jy werk nie. Die babakombersie is deur Elmine Möller gemaak.
Die kompetisies het ook die tema van braaidag gedra. Die mooiste voorskoot vir mans! Marlene Lots is so oulik.
September is ook erfenis maand en braaidag. Die verrigtinge is afgesluit met regte braaibroodjies en moerkoffie en stokkiestee. ‘n Fees vir elke dame teenwoordig. Daai dag was die begin van braaidag!
Leave A Comment