Sirkel: Overberg

Tak: Bredasdorp

Studierigting: Gesondheid

Beriggewer: Letty-Ann Möller

Datum: 5 September 2023

Selfsorg; ‘Assess and Invest’

VLV Bredasdorp tak het die oggend van 5 September 2023 met ‘n goeie gesindheid die lesings oor goeie gesondheid tegemoet geloop.  Ons is verwelkom met kleurvolle teetafels elkeen met ‘n reuse kroonprotea  aan een smal sy van die tafelfdoek sorgvuldig  toegevou.  Die tee en ‘n verskeidenheid handhorinkies -en tertjies is op ‘n lang hout toonbank uitgestal en almal is genooi om tee en eetgoed te kry voordat hulle gaan sit sodat daar nie geskarrel word terwyl die pianis, Anna-Marie Groenewald, optree nie  Die toonbank en tafels het lente aangekondig.  Selfs die drie sprekers is met blomplante bedank.  Dit was die Gesondheidsameroeper, Chantell Smith se eerste vergadering.

Die sprekers was ‘n leefstylmentor, Adél Dreyer (gewigsverlies en tipe 2 diabetes: ” bly weg van suiker en stysel”), die streeksbestuurder van Helpende Hand, Marlise Labuschagne (“ons help waar die regering nie kan help nie”) en een van haar Maatskaplike werkers, Anla de Waal met wyse raad. ( “Onthou om jouself ‘n drukkie te gee!”)

‘ASSESS AND INVEST’
(Alias die skrywer, Janine Vorster.)
1.Erken die simpyome van uitputting:
*chronies moeg, lae energievlakke, hulpeloos
*negatief
*onttrek emosioneel
*lae selfbeeld
*liggeraak

2.Belê in jouself:
*fisies
*geestelik
*sielkundig
*emosioneel
*professioneel
*finansieel
*jou omgewing

3.Hoe kyk ek na myself?
*oefen 5 x ‘n week vir 20 – 30 minute
*eet genoeg groente, drink baie water en vermy kitskos
*hou stiltetyd
*lag!

Geniet gelukkige tye! Moenie gelukkige tye bederf deur bekommerd te wees nie.  Ons kan alleenlik liefde en sorgsaamheid uitdeel as ons onsself versorg en koester.

Die gehoor was uitbundig gelukkig oor die goeie fondsinsameling na afloop van die wynveiling met die bestuur se Sop en Soetes – die enigste fondsinsameling van die jaar.  Soveel so dat die bestuur ‘n lewendige danspassie ten aanskoue van almal uitgevoer het.

Informele beoordeling van die peer en appel konserf is gedoen en die drie kongrestrofees (Eerste vir breiwerk: Annette Fourie, sesde vir borduurwerk, Dalene Lindenberg, 3de meeste Kongrespuntetelling en verskeie sertifikate, o.a. vir hekel- en weefwerk) is deur die Sirkelverteenwoordiger, Landbou, Annette van Eeden, namens die Sirkelpresident, Rienie Lüdick, oorhandig.

Dit was, soos een lid dit agterna opsom, “Die saal het nog nooit voorheen vir my so mooi gelyk nie.  Die kleurvolle tafeldoeke, blompotplant geskenke en veral Helpende Hand se twee sprekers was uitstekend! Die tweede koppie koffie was ‘n bonus, dankie!”

Twee nuwe bestuurslede, Annatjie de Beer en Elsette Strachan, is eenparig verkies om die twee bestuurslede wat afgaan, Ina Odendaal en Carene Cooper, te vervang.