Sirkel: Overberg
Tak: Gansbaai
Studierigting: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Marianna Mostert
Datum: 4 Julie 2023
“Die uitdaging van verandering”
VLV GANSBAAI KALENDER 2023 STORIES GAAN VOORT
Op 4 Julie 2023 gaan VLV Gansbaai se Fantastiese Kalender Jaar stories voort as Sharon Bales en die Gasvroue van Opvoeding en Kultuur ‘n vergadering aanbied wat alle verwagtinge oortref.
Die twee onderwyseresse Chantall en Louisa van die Strandlopertjie Speelskool in Gansbaai kom lê besoek af by VLV Gansbaai en word aan die vergadering voorgestel deur Christina Vermeulen wat die Projekleier is. Hulle bedank die VLV lede vir hul hulp en vir die skenkings wat onder andere ‘n gasstofie en gassilinder, matte vir die klassies, leermateriaal en speelgoed insluit. Die kinders is baie in hul noppies om weer met klei, boontjiesakkies en hoelahoeps te kan speel.
Dr. Myrtle Erasmus was die Spreker vir die middag. Sy het 24 jaar ondervinding in grondslagfase onderwys, sy het ook grondslagfase studente opgelei, baie maal studente uit moeilike omstandighede, maar soos sy sê, dit was vir haar ‘n voorreg en het haar baie kere buite die boks laat dink.
Van links na regs: Rienie Lüdick (Voorsitter VLV Gansbaai); Sharon Bales (Sameroeper Opvoeding en Kultuur VLV Gansbaai); Dr. Myrtle Erasmus
Dr. Erasmus wys daarop dat tyd die beste is wat jy jou kind kan gee. Ouers moet speel met hul kinders, Ouma en Oupa het meer tyd. Dit is ‘n voorreg om tyd met jou kleinkinders te spandeer. Onderwys moet ‘n roeping wees vir studente. Die beste manier van leer is om met kinders te speel. Musiek is ook belangrik, onderskei tussen toonhoogtes, hoog en dan weer laag. Gebruik gewone oorskiet goed om instrumente te maak. Bou selfvertroue en stimuleer klein en groot motoriese ontwikkeling. Balans is baie belangrik vir kinders. Let op watter voet eerste vorentoe gaan . Dit is die dominante voet. Maak ‘n hoelahoep van stukke bespoeiings pype. Maak vroetelsakkies en sit artikels met verskillende teksture binne in. Kinders moet verantwoordelikheid leer. Sosiaal moet hulle leer om saam te speel en vir hul beurt te wag. Inligting uit storieboeke leer taalvaardigheid. Hulle moet kleure onderskei, prikkel hul denke. Tegnologie is vandag ‘n werklikheid, maar handhaaf ‘n balans. Dr. Erasmus wys aan ons verskillende apparate wat sy uit oorskiet goed gemaak het. Sharon Bales bedank haar vir ‘n leersame en interessante middag.
Dr. Myrtle Erasmus demonstreer hoe tuisgemaakte apparate gebruik word
Sharon Bales links bo op die foto stel haar Gasvroue aan die vergadering bekend.
Pragtige foto’s en kaartjies wat deur kinderhandjies gemaak is om die tafels mee te versier
So kuier ons al spelende heerlik saam deur die middag.
Leave A Comment